Vakansiefotografie

Ons Praat Foto’s

“It is an illusion that photos are made with the camera… they are made with the eye, heart, and head.”
-Henri Cartier-Bresson

Johan Viljoen

As ons praat van vakansiefoto’s is dit nogal ‘n wye onderwerp. Dit kan seker haas enige tipe fotografie wees wat jy tydens jou vakansie neem.
Seker om die plek of die vakansiegees te vries vir môre.

Enigiets – van ‘n pragtige landskap, die see, diere, voëls, mense op die strand. Jou vakansie is uniek, maar foto’s kan baie gewoon wees.
Dan is die hoek en die lig waarskynlik die onderskeidende kenmerke wat ‘n foto daardie ekstra kyk werd maak om dit van gewoon tot ongewoon te verhef.
Moenie bang wees vir lig nie. Dit is jou vriend. Ja, op reis is dit moeilik om altyd te vertoef vir die regte lig.
Maak die foto met wat jy het.
Maar dit beloon altyd as jy kan teruggaan teen laatmiddag, vroegoggend of skemer, of wanneer die son heeltemal of gedeeltelik agter ‘n wolk verdwyn.
As jy vakansie hou, het jy soms ‘n paar dae om dieselfde foto in ‘n verskeidenheid van ligtoestande te maak.
Baie lig kan te veel wees en skrapse lig kan te min wees. Sê wie? Nicky van den Berg, goeie middag.

Ja, baie lig kan iets uitwas, maar dit kan effek gee. Die storie vertel. Dit is immers nou somer en meesal warm sonskyn. Daarteenoor is die donkerder beeld dikwels ‘n goeie hulpmiddel vir ‘n bietjie drama. As die lig minder is, kan jy ook jou lens langer oop hou vir daardie melkerige seewater of rivierwater. Dan kan jy met effekte speel. En as jy ND-filders wil gebruik om die dinge sommer sonder wag donkerder te maak, hoekom nie?
Jy kan ook jou kamera beweeg (sogenaamde ICM – in camera movement) met ‘n langer beligting en kersliggies kan bv. jou kunstenaarskwas word en die kamera eintlik jou doek.

Moenie met lig speel nie. Ja, speel met lig. Lig is jou maat, maar lig laat nie met haar speel nie. As lig daar is, moet jy neem. Lig wag nie vir jou nie. Sy is nou daar, en dan is sy weer weg. Gryp haar as sy daar is. Dit is soms sekondes.
As die lig min is. Druk jou ISO (ons het in die ou dae gepraat van ASA). Druk dit so ver jy moet as jy nie ‘n driepoot of ander stewige lêplek vir jou kamera het nie.
Ja, hoë ISO gee grein. Soms, veral vir karakter en swart-en-wit, kan grein bydra, maar dit kan werklik ook pla. En wie het gesê jou fokus moet val op liggies wat in fokus is?

Daar is gelukkig in ons era die nuwe “buzz”-woord. AI. Kunsmatige intelligensie. Wonderlik hoe dié tegnoligie al beter raak en sagteware soveel van grein wat pla met die druk van ‘n knoppie laat verdwyn. En dié tegnologie raak net beter en … goedkoper natuurlik.
Die hoek.
Wel, jou invalshoek. Elkeen van ons het ‘n ander manier van kyk en daarom ‘n ander manier van prentjies maak. (Nou ja, nie alle beoordelaars laat vir hierdie variasie toe nie… Maar wie het gesê jy moet vir beoordelaars foto’s neem?)

Die hoek.
Die grootte van jou hoek sal immers bepaal hoe groot die vis is wat jy aan die lyn wil kry.
Die grootte van jou hoek (naby of ver of baie naby of baie ver) sal die impak bepaal.
Ons pas maar almal sensuur toe met ons kameras. Ons besluit watter deel van die storie ons wil vertel en watter deel ons wil uitlaat. Maar ons mag. Dit is juis die wonder van fotografie. Jy hoef nie altyd die volle waarheid te vertel nie. Moenie dat feite met ‘n goeie storie inmeng nie. As dit pla, los dit uit. Sny dit af.

Die hoek.
Dit is nie altyd die grootte wat tel nie… ja.
Maar dikwels is dit die hoogte.
As hoogte jou nie beskore is nie, moenie bang wees om te gaan lê nie. Van onder af kan jy ‘n ongewone/nie-alledaagse hoek kry wat jou foto onderskei en mense (ook beoordelaars) twee keer laat kyk.

Die hoek.
Kyk en skuif jou ‘n bietjie na links of ‘n bietjie na regs en kyk hoe dit die prentjie dramaties kan verander – ook t.o.v. onderwerpe wat in of uit is.
Mense.
Vakansie gaan oor mense. Wie is die mense? Jy is die mense. Maar vir baie is vakansie interaksie tussen mense en daardie intieme oomblikke met familie of lekker buitelugaktiwiteit op die strand of iewers op ‘n tweewiel.

As jy mense in aksie wil afneem – stil of bewengende aksie – is lensopening een van jou grootste vriende om jou onderwerp te isoleer en te laat uitstaan. Maak dit wyd oop om die agtergrond uit fokus te gooi.
Hoe nader jy aan die onderwerp is, hoe groter is hierdie effek. Ideaal is dat die afstand tussen julle kleiner is as dié tussen die onderwerp en agtergrond. En as jy ‘n langer lens wil gebruik, kan jy die effek vergroot, al druk ‘n langer lens als platter. Dit benadeel nie die lensopening-effek nie.
En as jy dan van ‘n lang lens praat.

Moenie vergeet van naby nie. Ook met ‘n kort lense. Of makro. Op jou knieë op die strand – krap in die sand en sien daardie besondere klein skulpie wat lewe kry en ‘n krappie word. Of ‘n klein bietjie verder en net ‘n nabyfoto van die bakkies wat daar lê en wag vir hul vissers.
Terug by mense.
Waar mense is, is kos. En tydens vakansies word daar dikwels effe oorboord gegaan met kos. Nóg ‘n fotogeleentheid. Dikwels vol kleur.

En soms, soms is jou vakansie juis terug plaas toe of kampvuur toe. Terug na ‘n blikbeker en beskuit om die vuurherd.
Die moontlikhede vir vakansiefoto’s is legio.


Jy moet net jou kamera opneem en jou unieke vingerafdruk op daardie prentjies loop sit.


Skiet baie foto’s en maak jóú vakansiefoto’s anders.

Fotogroete
J Berto V

Leave a Reply