Pets – Troeteldiere

Ons Praat Foto’s

Dogs laugh, but they laugh with their tails.
-Max Eastman

Johan Viljoen

Troeteldiere en emosie kan maar in een sin genoem word.
Daar is haas altyd een of ander vorm van emosie wat deur troeteldiere raakgeprik word…
Straks is dit juis ook een van die belangrikste boksies om te kan merk as jy foto’s van troeteldiere neem.
Woorde soos “cute” of “ag moeder” kom dikwels onwillekeurig uit.

Soos met mensbabatjies, pluk klein katjies en hondjies ook onmiddellik aan ‘n hartsnaar of twee.
Jy kan dalk ‘n sogenaamde “record shot” (al is dit amper ‘n vloekwoord vir die uwe in die beoordeling van fotografie) van jou troeteldier neem, of kan jy?
Kan ‘n foto van ‘n troeteldier só neutraal wees dat dit geen emosie ontlok nie? Wel die uwe twyfel.
Maar daar is beslis foto’s wat sterker met emosie speel. Die aandag sterker aangryp en die kyker net langer sal laat kyk.
Dit is straks onder andere daardie foto’s wat die kyker in die dier se kykers laat kyk – oogkontak, sê hulle.

Wenke wat hier sal help, is natuurlik om seker te maak jou fokus/klem val op jou onderwerp. Of jou oë word nie aanhoudend weggetrek nie, maar kom altyd terug na die onderwerp.
Oogkontak natuurlik. En omdat die mense se oë amper magneties deur mense en diere aangetrek word en dan verder na hul oë, is dit maar altyd wenslik dat die oë so skerp moontlik is.

By ‘n dier met ‘n lang neus/bek, wil beoordelaars soms ook die snoet in fokus hê, maar dit is smaak. Die oë is eerste prys.
Die plasing van die dier op ‘n derde-lyn of ‘n derde-kruising maak die meeste foto’s sterker, maar moenie bang wees vir hipersimmetrie nie. Dit kan baie groot impak hê. Veral met ‘n baie naby skoot.
As jy van jou onderwerp sny, sny oordeelkundig. Só dat dit doelbewus en nie terloops of na ‘n fout lyk nie. Gaan baie naby of halflyf, eerder as tweederdes of driekwart.
Eintlik geld dieselfde beginsels as met menseportrette.

Die bekende Franse modefotograaf Patrick Demarchelier word aangehaal: “The dog is the perfect portrait subject. He doesn’t pose. He isn’t aware of the camera.”
Wel, dit voel nie altyd so nie. Maar dalk is hy reg. Die hond of kat is seker bewus van die fotograaf en nie die kamera nie.
Só, dan moet jy maar tyd met die dier spandeer sodat hy/sy verby dit kom en jy dan natuurlike foto’s kan neem.
Geleerde/gehoorsame diere is uit die aard van die saak makliker om af te neem. Hulle sal stiller wees en op opdragte reageer. Woelwaters is natuurlik ‘n uitdaging.
As jy portretfoto’s wil neem, laat die dier eers gemaklik met jou raak. Maak seker die dier is ontspanne, veral as dit ‘n dier is wat jy nie so goed ken nie. Wees self rustig en moenie hard praat en die dier bang maak nie.

Of wil jy sulke opgestelde foto’s neem? Is daardie waar die dier vroetel en beweeg nie juis dié wat gaan aandag trek nie?
Is ‘n dier wat bang of kwaai lyk dalk juis jou doel?
Onthou as jy jou eie dier afneem, het jy emosionele konneksie. Die dier het ‘n naam en dit is perfek en moet so wees. Die foto’s gaan vir jou spesiaal wees. Maar ander het nie dieselfde emosionele konneksie nie. So met die oog op klubfotografie, probeer ‘n bietjie wegstaan en dink hoe ‘n neutrale persoon daardie foto sal ervaar.
Gaan dit emosie wek? Is dit skerp genoeg (of genoeg beweging dat dit nie net na tegniese probleme lyk nie)? Is die dier of diere op die beste plekke geplaas? Ja, jy het die luukse dat diere die oog trek, maar daar is punte waar dit nog sterker is. Gebruik dit. Sny slim.

Probeer jou dier isoleer met lensopening – groter lensopening (kleiner F-nommer) help, maar fokus dan ook net op verkieslik die oë. Natuurliker is dit waar die duurder vinniger lense met groot lensopeninge baie help. Dit kan die dier net soveel beter isoleer as dit jou einddoel is. As jy met ‘n lekker zoemlens kan neem en naby genoeg aan jou onderwerp is, kan jy só ook die agtergrond meer uit fokus gooi. Maar omgewing kan uiteraard tot jou storie bydra.

So, moet jy naby of ver van jou onderwerp wees? Daar is ‘n skool wat glo: “If it is not close enough, it is not good enough.” ‘n Naby skoot met ‘n wyer lens is eintlik maar meer intiem as ‘n zoem-foto, maar as jy die dier nie ken nie, is ‘n zoemlens-steelfoto weer meer natuurlik.

Moet die oë oop wees? Ja, seker soos met ‘n mens, maar ‘n slapende hond of baie lui kat se oë is mos toe of half hangerig. Dit kan die storie vertel.
Probeer aktiwiteit. ‘n Hond wat rondhardloop en speel of gelukkig lyk, wek ‘n bepaalde emosie. Maar onthou dan jou vinniger sluiterspoed. Jy kan natuurlik ook die dier volg om die agtergrond bewegend te laat blur of ‘n gedeelte van die dier (verkieslik meesal nie die kop en oë nie) wat beweging wys, bring ook ‘n ekstra element.
Onthou ook jou hoogte. Soos met kinders, gee ‘n kamera op ooghoogte en laer meesal meer impak en net ‘n beter konneksie. Maar natuurlik is daar foto’s van bo wat juis beter werk – soos ‘n vraende uitdrukking op die dier se gesig wat dalk ‘n beloning of lekkerny soek.
Gaan lê maar plat. Jy sal die vrugte pluk. As jy ‘n uitvouskerm op jou kamera het met “live view”, help dit ook om jou kamera laer te kry. Terloops, die fokus in “live view” is soms beter om beweging af te neem.

Soos in alle fotografie is lig sonder ‘n onderwerp amper dood, maar so ook andersom.
Goeie lig is die sleutel. As jy buite neem, gee oggende en laatmiddae maar net daardie meer aangename lig en soveel meer opsies.
Soos met mense kan kantbeligting binneshuis wonderlike diereportrette gee.
En moenie vergeet van monokroom nie. Dit kan soms uitstekend werk.

En dan geduld. Geduld. Seker een van die grootste wagwoorde. Wag maar. Jy sal ALTYD beloon word met daardie foto van Wagter waarvoor jy geduldig gewag het.
Geniet die troeteldierfoto’s.
(Die uwe wonder altyd waarom katte ook troeteldiere heet. Want ‘n kat is nie die mens se troeteldier nie, die mens is die kat se troeteldier… ja ja)

Nietemin
Vingers op die knoppies


Groete eers
J Berto V

“In ancient times cats were worshipped as gods; they have not forgotten this.” – Terry Pratchett

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *