Straat- en Joernalistiekfotografie

Ons Praat Foto’s

If it makes you laugh, if it makes you cry, if it rips out your heart, that’s a good picture. – Eddie Adams

Johan Viljoen

Straatfotografie en fotojoernalistiek het ten beste ten doel om te dokumenteer, dikwels met ‘n stuk sosiale werklikheid of nuuswerklikheid vervleg.
Die idee is om ‘n storie te vertel – amper soos daardie cliché dat ‘n foto meer vertel as ‘n duisend woorde.
Maar as ‘n straatfoto of koerantfoto die storie, of ‘n noemenswaardige gedeelte daarvan, kan vertel sonder ‘n lang meegaande artikel, het die foto ‘n groot deel van die toets geslaag.

“Die regbank is aan die brand” – streekhof het uitgebrand

Dit bevat weliswaar nie altyd mense nie, maar in die meeste gevalle wel mense of mensgemaakte elemente. Maar daar is uitsonderings. Nuusfoto’s kan ook mensloos droogte en vrektes van diere of soortgelyke tonele uitbeeld.
Dokumenteer is hier een van die belangrikste wagwoorde en die bedoeling is om ‘n toneel so eg en waar moontlik weer te gee.
Dis natuurlik en nie opgestel nie.

As jy kyk in die geskiedenis is daar ikoniese straatfoto’s en nuusfoto’s. Te veel om op te noem. Die eerste atoombom.
Of dink maar aan die bekende 1984 een van National Geographic van die Afghan-meisie, Sharbat Gula (Bibi), met die treffende oë deur fotojoernalis Steve McCurry.
‘n Nuusfoto kan dikwels ook baie omstrede wees en erge emosie ontlok. Dit kan skok. Dit kan ook vir die fotograaf ontstellend wees. Die uwe het voorheen al heelparty skokkende nuusfoto’s moes neem wat hom in wese getref het – van die slagoffers in taxigeweld of ‘n erge motorongelukke.
Daar is mense vir wie dit ook hulle werk is.

Ek dink aan die onluste in ons geskiedenis en daardie ikoniese foto van die gewonde jong Hector Pieterson in die arms van Mbuyisa Makhubo. Geneem deur Sam Nzima.
Soveel om op te noem – ek onthou talle ontstellende voorbladfoto’s – die blou Mercedes in Bophuthatswana in 1994, die horde opgeblaaste liggame op die strand ná 2004 se tsunami en ‘n ontstellende naakfoto van twee mans wat grusaam vermoor is – Brett Goldin en Richard Bloom.
Maar nuusfoto’s hoef nie almal onstellend te wees nie. Dit kan beslis ook die vreugde van ‘n triomferende sportspan of atleet of enige wenner wees. Ook van bekende persone in aksie.
Straatfoto’s kan ook nuusfoto’s wees, maar ‘n mens kan sê hulle sluit dikwels meer van ‘n toneel in en vertel ‘n toneelstorie.
Hulle hoef uiteraard nie in swart en wit te wees soos in die dae van bekende fotograwe soos die Henri Cartier-Bresson’s van die wêreld nie. Maar niks verhoed jou om wel die omskakeling te doen nie. Probeer al in die oomblik dink hoe die foto in swart en wit sal wees – hier is hoe lig en donker betrokke kleure is, nogal belangrik – en probeer daarvolgens ook neem.

Ook belangrik dat die foto primêr ‘n storie moet vertel en dat estetiese en mooi en ook tegniese kwaliteit ondergeskik is aan die storie. Dit beteken natuurlik nie dit moet tegnies swak wees nie, maar die tegniese en estetiese dra nie die swaarste gewig nie.
Cartier-Bresson het dikwels sukses behaal met wat hy die “The Decisive Moment” genoem het.
Tydsberekening in beide nuus en straatfoto’s kan inderdaad deurslaggewend wees. Omdat jy nie opstel en ook nie kan manipuleer nie, moet jy dikwels ‘n bietjie beplan en dan help ‘n bietjie geluk natuurlik ook.

Nog ‘n straatfotograaf wat eers in die onlangse verlede bekendheid verwerf het, is die Frans-Amerikaanse Vivian Maier. Sy het in haar later jare meesal kleurskuifies (Kodak Ektachrome 35mm film) geneem.
Al wil dit voorkom of Maier dalk in heelparty van haar foto’s eers die “modelle” se aandag getrek het voor sy die foto’s geneem het, word daar algemeen aanvaar dat jy in straatfotografie eintlik probeer om foto’s ongesiens te neem – juis vir meer natuurlike en egte tonele.
Amper soos paparazzi.
Die plasing van onderwerpe en/of die aksie kan ‘n groot faktor tot sukses wees in straatfotografie – dus wys om ‘n toneel te bekyk en te voorsien hoe dit kan verander en hoe jou eie herposisionering en/of die beweging van ander elemente jou foto beter kan maak. Soms moet jy net wag vir die elemente om hulself beter “in plek” te skuif.
Anders as in opstel- en studiofotografie, is dit hier belangrik om op die uitkyk te wees vir interessante elemente en gebeure.
Een van die geëikte opmerkings met fotobeoordeling is daardie “goed raakgesien”. Wel, dit is in besonder van toepassing op straat- en nuusfotografie.
In nuusfotografie ook, maar meer so in straatfotografie, kan jy nogal heelwat mensgemaakte vorms soos gebou en straatlyne kry. Gebruik dit tot jou voordeel om die kyker se oog te lei.

“Skollie” in die straat
“Skollie” in die straat jare later, toe hy my uitvreet omdat ek “sonder toestemming” foto’s van hom neem – toe het ek maar opgehou

In nuusfotografie kan baie nader rou emosie soms goed werk, maar met straatfotografie wil jy dalk juis meer van die omgewing en konteks wys.
Dan is ‘n wyer hoek meer gewild. Talle straatfotograwe verkies ook ‘n kleiner kamera/lens-kombinasie om minder opsigtelik te wees en meer natuurlike foto’s te kry. Natuurlik is ‘n wyehoeklens geneig om geboue en lyne erg te buig. Hou dit maar in gedagte as jy dié foto’s neem.
Al wil jy nie altyd als in fokus hê nie, help ‘n wye hoek met fokus omdat dit jou meer diepte van veld gee.
Wees maar bedag op mense en die reëls van hulle afneem. Jy mag hulle in die openbaar afneem, maar as hulle jou versoek om hul nie verder af te neem nie, is dit maar beter om op te hou.

Net voor hulle weer die swart doek oorgooi – Hulle het ver op die platteland uit die publieke oog foto’s van die nuwe Citroen C6 geneem vir die bekendstelling later…

Manipulering van jou foto’s:
Wat is dit en wanneer is dit aanvaarbaar?
Manipulering is waarskynlik wanneer jy jou foto sodanig verander dat dit nie meer ‘n juiste weergawe van die toneel is nie.
En jy kan natuurlik, soos enige kunstenaar, jou foto’s na hartelus manipuleer net soos jou hart begeer.
Met net een voorbehoud.
Jy kan hulle dan nie in alle kategorieë inskryf nie.

Kunsuitstalling: “Some are more equal than others”

En straatfotografie en nuusfotografie (joernalistiek) is een van daardie.
Sommige kategorieë laat sekere vorms van manipulering toe – goed soos WDS (HDR – High Dynamic Range) en fokusstapel soos vir makrofotografie.
Maar by kategorieë vir straatfotografie en joernalistiek word geen manipulering toegelaat nie.
Jy mag wel geredigeer, maar nie manipuleer.

Covid-19


Dit beteken basiese redigering soos die omskakel na swart en wit (nie dat dit altyd so maklik en basies is nie), die regop draai en terugsny (“crop”) van jou foto asook die verwydering van stofkolle word nie as manipulering beskou nie. So ook nie die goed wat jy tradiosioneel in ‘n donkerkamer sou kon doen nie soos verlig (“dodge”) en inbrand (“burn”). Dit is per definisie nie manipulering nie.
Maar jy mag nie natuurlik nie ‘n ongewenste asdrom of paal of rommel of iets dergeliks uithaal of ‘n element invoeg nie.

The Royal Empire

Soos in alle fotografie is lig en die verskillende grade van die intensiteit daarvan, kleur (waar van toepassing) en komposisie hier ook kardinale boustene.

So al wat nou oorbly is om op straat te kom.

Fotogroete
J Berto V

You are not just a photojournalist, you’re a historian. – Bill Eppridge

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *