Sport

Ons Praat Foto’s: Sportfotografie

“The most important thing you learn as a sports photographer is anticipation – not where the action is taking place, but where it’s going to take place. Not where the subject is now, but where they’re going to be.” – Lawrence Schillern

Johan Viljoen

Die hoek…
Die hoek is nie als nie, maar dit is dikwels die verskil tussen ‘n baie goeie en ‘n indrukwekkende foto – ook in sportfotografie.
Die hoek kan natuurlik beteken die wydte van die hoek waarteen lig deur jou lens op jou sensor (film as jy wil) val – wyehoeklens of sterk telefotolens.
In sportkantore van koerante het ek dikwels gehoor: “If it is not close enough, it is not good enough.” Wel, ek dink dit is steeds waar van party foto’s maar ver van die waarheid as jy juis ‘n storie met die sportfoto wil vertel. Iets van die omgewing en of geleentheid by jou aksiefoto wil insluit.
Wie het gesê ‘n sportfoto moet ‘n aksiefoto wees? Gesigsuitdrukkings en emosie en toeskouers (weliswaar nie eintlik in die Covid-tyd nie) is immers ‘n integrale deel van sport. Daardie goed wat op die kantlyn of langs die veld gebeur, maak dikwels perfekte onderwerpe vir wonderlike fotografie. Sport kan pragtige storiefotogeleenthede bied.

Nietemin. Dit is ‘n kwessie van mening en hoop ‘n mens beoordelaars sal dié wyer visie hê.
Maar terug by hoek.
Die ander hoek wat ‘n groot invloed op ‘n foto het (in heelparty ander genres ook) is die hoogtehoek. Daardie hoek (teenoorgesteld van die lighoek na jou kamera) waarvan die brandpunt op die onderwerp is. M.a.w. die hoogte van jou kamera vergeleke met die onderwerp. Dikwels is dit daardie hoek van bo (ongewoon vir die gewone kyker wat op “menshoogte” na die aksie kyk) wat ‘n foto uitsonderlik kan maak. Net so kan ‘n foto van baie laag geneem juis ook die aksie of onderwerp van jou foto groter en meer indrukwekkend laat vertoon.

Iets soos daardie foto waar die fotograaf die hoogspringatleet van baie laag afneem terwyl dié oor die dwarslat gly of die foto waar die fotograaf amper op die swembad se rand lê om intense oogkontak te verkry.
Maar, soos met als, is hoek ook net ‘n gedeelte van die prentjie.
Beligting en beweging of geen beweging is ‘n ander belangrike bousteen in sportfotografie.
Die keuse is uiteraard joune.
As jy jou eie beweging (sogenaamde camera shake) wil uitskakel, sal dit van fotograaf tot fotograaf wissel, afhangende van hoe stil jy jou kamera kan hou.
‘n Stewige posisie met jou elmboë teen jou bors ingetrek help baie. So ook as jy jou asem vir die oomblik ophou, maar dit is onprakties as jy baie foto’s neem. Mik maar vir ‘n vinniger sluiterspoed. Hier is ‘n eenpoot (monopod) ook bitter handig om die gewig van jou hande af te haal, veral as jy vir lank met ‘n swaar lens foto’s neem.

So wat wil jy doen in sportfotografie? Net jy sal weet, maar dalk wil jy….
…1. die aksie vries. Wel, dan is ‘n sluiterspoed van ‘n 1000ste van ‘n sekonde of veel vinniger aanbeveelbaar.

…2. deurvolgfoto’s neem (sogenaamde ‘panning’), waar jy probeer om saam (omtrent dieselfde spoed) met die onderwerp te beweeg, om die agtergrond te blur. Jy neem dus eintlik nie die beweging van die onderwerp af nie, maar skep die effek van die beweging deur die agtergrond te laat “beweeg” terwyl ‘n deel van jou onderwerk duidelik in fokus is. Hier is ‘n stadiger sluiterspoed van ‘n 100ste tot (met genoeg oefening) omtrent ‘n 15de van ‘n sekonde ‘n goeie spektrum. Onthou om altyd nog ‘n entjie te bly beweeg nadat jy die knoppie gedruk het (deur te volg), om seker te maak jy kry die gewensde effek.

…3. meesal met die sonlig van agter jou neem. Dit maak beligting op die onderwerp makliker en verlaag die risiko van weerkaatsings op jou lens ook, maar niks verhoed jou om kreatief teen of gedeeltelik teen die lig te neem nie. Dan sal jy potensieel vol of gedeeltelike silhoeëtfoto’s kry.

…4. die aksie van die agtergrond laat uitstaan en verhoed dat die agtergrond te veel kompeteer. Dan gebruik jy ‘n lensopening so wyd moontlik. Dit sal afhang van joulens se maksimum-lensopening. As jy ook nader aan die onderwerp kan wees as die agtergrond, sal dit ook help om die agtergrond meer uit fokus te kry.

…5. die werklikheid dat die oog altyd vir ‘n mens se gesig soek, tot jou voordeel gebruik en juis op een of meer gesigte fokus.
…6. probeer om in ‘n balsport die bal ook in die foto in te sluit. Dit vertel net meer van die storie.

…7. ‘n baie wye hoek gebruik om meer van die aksie of ook toeskouers in te sluit – ‘n foto vertel meer as ‘n 1000 woorde.
…8. met ‘n sterk telefotolens die aksie soveel nader trek met ‘n baie skerp fokus en straks selfs water of stof wat spat dat die intensiteit amper uit die foto spring.

…9. seker maak dat jy nie te lank (want dit is die probleem met digitaal) ná jou foto op jou kamera se skerm kyk en in die proses waardevolle aksie-oomblikke verloor nie.
…10. bly tot ná die wedstryd of byeenkoms om juis die emosies van wen en verloor ook vas te vang.

Nou ja, daar is nou min sport, maar daar is niks fout mee om ‘n atleet, sportman/vrou op te stel in sportklere en naby aksiefoto’s te neem nie.
Maar daar is darem geleenthede soos gholf en ander sport – ook skole waar leerders in die middae oefen – wat tans plaasvind.

En o ja. As jou lens nie so vinnig is nie (baie groot kan oopmaak nie) en die lig is nie in jou guns nie, moenie bang wees om jou kamera se ligsensitiwiteit-verstellings (ISO) te benut vir vinniger sluiterspoed nie.Kry liewer ‘n foto (al is dit effens greinerig) as geen foto nie. Daardie grein kan juis karakter in jou foto help skep.

‘n Belangrike ding is die sportkategorieë in fotokompetisies. Jy mag meesal nie manipuleer nie. Maar as dit ‘n klub se tema vir die maand is, hang dit van die klub se reëls af of dit as ‘n ope kategorie beoordeel moet word.

Die fokus in sportfoto’s kan ook ‘n uitdaging wees. Kameras verskil, maar heelparty het ‘n sportmodus, waar die meeste van die goed reeds vir jou gedoen is. Dit sal dikwels dan voorkeur gee aan ‘n groter lensopening en vinniger sluiter asook deurlopende fokus. Maar jy kan op baie kameras ook self kies om deurlopende fokus te gebruik om die aksie te bly volg.

Moet ook nie vergeet van die kamera se vermoë om ‘n sarsie foto’s te neem eerder as een op ‘n slag nie. Hierdie verstelling word met groot vrug deur sportfotograwe gebruik, terwyl ander juis nie daarvan hou nie. Onthou net, dit kan jou geheuekaart se brein baie vinnig vul.
Onthou ook beplanning en verkenning van die terrein vooraf het nog nooit skade gedoen nie.

Dan is daar, soos Schillern sê, ook die ding van voorgevoel en met albei oë oop. Sommige sportsoorte (bv. netbal) vereis dat jy nie die persoon moet afneem wat die bal het nie, want as jy die foto neem, is dit dikwels te laat. Kyk wie4 die bal gaan ontvang. Dan het jy ‘n beter kans om die bal ook op die foto te kry.

En laastens, moet nie skaam wees vir swart en wit of “mono” nie. Daar is ‘n baie goeie plek vir sportfoto’s wat ook van kleur gestroop is.
So, al wat oorbly is om jou aas in die water te kry. Hou die vinger op die kamera se skepknoppie en laat rol die sportfoto’s in.


Tot ‘n volgende keer

Geniet die sportfoto’s
J Berto V

Leave a Reply