Ons Praat Foto’s: Travel/Reisfotografie
“No place is boring, if you’ve had a good night’s sleep and have a pocket full of unexposed film.” – Robert Adams
Reisfotografie word beskryf as die uitbeeld, so natuurlik moontlik, van die kenmerkende kultuur, aktiwiteite of landskap of kombinasies daarvan in ‘n bepaalde streek/omgewing.
Vir daardie rede word aanbeveel dat afgesien word van opgestelde foto’s. Daar is geen beperking op geografiese streek nie en hoef jy nie ver te reis om reisfotografie te beoefen nie.
Dit is egter so dat in fotokompetisies soos salonne die foto’s kenmerkend van ander streke wat nie so alledaags vir die betrokke beoordelaars is nie, dikwels beter vaar.
Maar selfs al neem jy in klubverband deel en die tema is reisfotografie, is dit ‘n ope vraag en deurlopende debat of jy vir beoordelaars en punte foto’s neem of vir jouself. Die antwoord daarop sal jy alleen ken en is dit jou reg om self te besluit waar jou fokus lê.
Soveel mense sê jy moet vir jouself foto’s neem. Sê wie?
Maar terug by die riglyne (let wel riglyne) vir reisfotografie. Naby skote van die mense of enige onderwerp moet darem verkieslik iets van die karakter van die streek vertel.
Daar word ook oor die algemeen aanvaar dat naas die afsny van ‘n gedeelte van die foto in redigering (crop) en ander “donkerkamertegnieke (dodge & burn)” en die verwydering van stof, ander manipulasie soos die byvoeg, weg neem of skuif van komponente normaalweg nie aanvaar word nie. Die idee is om die storie so eg en natuurlik moontlik te vertel. En storie vertel kan inderdaad ‘n baie belangrike bousteen van reisfotografie wees.
Die omskakeling na monokroom word wel as aanvaarbaar beskou.
Elke reisbestemming het sy eie voorkoms, kultuur, geskiedenis, mense, gevoelens, landskappe en verhale. En elkeen sien en ervaar dit verskillende. Probeer vasvang wat jy ervaar.
Soos in ander natuurfotografie is vroeg op en laat uit ‘n groot bestanddeel van ‘n reisfotograaf se resep om besondere foto’s te maak.
Goue uur en blou uur en sagter lig met langer skaduwees bied soveel meer moontlikhede en meer aangename fotogeleenthede.
Doen navorsing voor jy reis. Die internet is ‘n wonderlike bron daarvoor. Dit help dat jy ‘n ingeligte idee het van hoe die plek lyk. Jy kan ook in besonderhede kyk na hoe en waar die son opkom en sak en hoe dit jou foto’s kan beïnvloed.
Die middel van die dag, al is dit soms onvermydellik, word immers algemeen aanvaar as nie die beste tyd om foto’s te neem nie. Daar is egter wel al baie pryswennerfoto’s in die middel van die dag ook geneem.
Praat eers met plaaslike mense as jy hulle wil afneem. Jy weet nooit hoe hulle sal reageer as jy die kamera voor hulle lig nie As hulle die idee kry dat jy belang stel, sal hulle meesal meer op hul gemak wees, veral as jy wys jy probeer ook hulle taal praat.
Dieselfde riglyne van visuele boustene – vorms, kleur, repetisie, tekstuur, lig en donker – geld ook vir reisfotografie.
Probeer altyd ‘n driepoot saam neem (al is dit ‘n ligter een vir reis). Weer – dit gee nie alleen stewigheid nie, maar dwing jou net om stadiger te werk te gaan en lei meesal tot ‘n beter komposisie.
Die eerste is meesal nie die beste hoek nie. Probeer ook wye hoek of ‘n telefotolens om ‘n gedeelte van die toneel nader te bring.
Maak tyd. ‘n Vinnige skoot (hit and run) is meesal ‘n sogenaamde rekordskoot. Dit gee net ‘n lokkasie, maar emosie of storie kan maklik ontbreek.
Mense in ‘n omgewingsfoto bring dikwels meer emosie by die kyker. Probeer mense insluit as dit gepas of haalbaar is. Al is hulle selfs nie herkenbaar nie, bring dit net die menslike element en soms ook ‘n skaalperspektief. Moenie daardie menslike element onderskat nie.
Terug by tyd. Van die beste foto’s gebeur as jy ‘n bietjie wag. Soms net ‘n paar minute dat iets inbeweeg of uit beweeg. As jy tyd het, sit by ‘n straatkafee en kyk hoe die straattoneel verander – dalk meer of minder mense, dalk meer of minder voertuie of kleur.
Dit is belangrik dat jy altyd in ‘n vreemde omgewing ook dare bedag is op die realiteite en hoe veilig dit daar is. Wees veilig. Moenie onnodig kanse vat nie. Daar kan gevaarlike plekke wees en respekteer die plaaslike inwoners.
Ken jou kamera. Spandeer tyd vooraf om al die kamera se kurwes en belangrike drukpunte te ontdek. Soms is daar ‘n situasie waar jy amper blind of in die donker die nodige verstellings moet kan doen. Weg van ‘n handleiding of sonder die nodige tyd moet jy dan weet wat om te doen. Waar stel jy die ISO, die modus oor van sluiterspoedvoorkeur na lensopeningvoorkeur, die fokusmodus van stil na beweging, en die fokuspunt van kant tot middel of bo tot onder, ens.
As jy die eerste foto’s geneem het, wissel dan van modus. Om bv. die sluiter langer oop te hou vir beweging… of meer diepte van veld of straks minder diepte te kry.
Wanneer jy kkaar die foto geneem het, kyk net om. Agter jou is soms ook ‘n fotogeleentheid. Of gaan net na die straat langsaan of die ander hoek – weg van dit wat almal afneem. Wissel ook jou hoogte – hoog of laag. Onthou ook die ware karakter van ‘n plek lê soms weg van die gewilde attraksies en punte. Net om die hoek.
As jy geboue insluit, kan dit buig met ‘n wye hoek lens (wyer as 50mm of die ekwivalent in ‘n crop censor). Jy kan dit in redigering weer vertikaal kry, of jy kan dit juis gebruik om effek te kry met sterker diagonale lyne.
Eksperimenteer ook. Neem soms teen die son of gebruik skaduwees eerder as goed beligte areas vir meer kreatiewe foto’s
Kyk maar uit vir borde en kennisgewings. Eerste om nie te oortree (betree) nie, maar veral ook dat dit nie al die aandag op jou foto’s steel nie. Dit kan maklik ‘n andersins aangename toneel versuur.
Tot ‘n volgende keer
(maak ‘n verskoning vir reiskiekies, al is dit sommer op ‘n buurdorp)
J Berto V
“The camera is the eye of history.” – Mathew Brady