Ons Praat Foto’s
“When words become unclear, I shall focus with photographs. When images become inadequate, I shall be content with silence.”
– Ansel Adams
Johan Viljoen
Ons skryf elke maand foto’s in vir klubkompetisies en dikwels vir salonne en dit raak so ‘n algemene ding dat ons soms vergeet om ag te slaan op ‘n paar belangrike tegniese punte en reëls.
Reëls. Ai, ja reëls. Eintlik seker maar om seker te maak die speelveld is gelyk as daar dan gekompeteer MOET word.
Salonne se reëls verskil dikwels van mekaar en is dit belangrik om jou presies te vergewis van die reëls.
Dit gebeur baie maklik dat jy ‘n reël miskyk en dan onnodig diskwalifikasies kry.
Manipulering het in die onlangse verlede weer opnuut onder die vergrootglas gekom omdat daar oënskynlik ‘n klompie gemanipuleerde werke vir nutuurkategorieë ingeskryf word.
So kom ons kyk ‘n bietjie na die reëls.
As ‘n algemene riglyn word die verwydering van stofkolle (ook krapmerke van jou lens) en die sny (“crop”) en regop draai en fokustapeling (“stacking”) – in veral makrofotografie om meer diepte van veld te kry, in die meeste natuurafdelings nie as manipulering beskou nie.
So ook is die regstel van lensvervorming, “chromatic aberration”, perspektief, vermenging van dieselfde toneel vir blootstelling (HDR) en fotostapeling vir lang blootstellings (astrofotgrafie) ook meesal aanvaarbaar in natuurafdelings.
In fotojoernalistiek is die fokustapeling en HDR weer normaalweg nie toelaatbaar nie.
Maak dus maar seker van die elke salon/kompetisie se reëls.
Wat ook oënskynlik weer belangrik geword het, is om te let op salonne onder die PSSA-vaandel se reëls dat jy altyd jou oorspronklik foto (RAW, as jy RAW geneem het, of die jpeg en maats: die twee foto’s wat dit vooraf gegaan het sowel as die twee foto’s daarna geneem) beskikbaar het en beskikbaar kan stel as die salonadministrasie of die PSSA dit aanvra.
Daar is GEEN beperking op die ouderdom van foto’s vir salonne nie en daarom kan jy baie ou foto’s ook inskryf. Dikwels net met die uitdaging om die oorspronklikes en daardie maats op te spoor. Wees dus maar altyd bedag daarop.
Nog ‘n belangrike ding is die foto se metadata of exif-data. Dit geld ook in klubfotografie.
Dit is daardie data en of aangehegte legger (ingebou in die foto se inligting) wat meer oor die foto se geskiedenis vertel.
Wat is die verskil tussen metadata en EXIF?
In digitale fotografie is metadata die inligting wat saam met die foto gestoor word. Dit sluit in die kamera wat gebruik is, die kamera-instellings gebruik, die lens, fokusafsstand, tyd, oorspronklike leggernaam, die plek waar die foto geneem is (indien beskikbaar) en ‘n klompie meer. En EXIF is die lêer wat hierdie metadata stoor.”
In die kompetisies word hierdie inligting gebruik om die oorspronklikheid te help bevestig en is dit belangrik om dit nie te verloor, uit te vee of daarmee te peuter nie.
En glo my, dit gebeur baie maklik onbedoeld en uit onkunde dat jy jou foto herstoor uit ‘n program en nie seker maak die inligting bly behoue nie.
Talle foto’s wat maandelik in ons klubkompetisies ingeskryf word, kom metadata kort.
Die klub se huisreël 3 sê eintlik uitdruklik dat die foto met volledige metadata en al ingeskryf moet word.
“ 3.5 The EXIF data of all images must be available/intact in order to ease investigations for originality of the image. It is absolutely forbidden for any entrant to tamper with the EXIF or original data in the files submitted for any competition(s). Image that does not have EXIF data available may be disqualified.”
Let dus maar op as jy jou foto’s redigeer en regkry vir inskrywings. Gaan kyk na die “properties” of “file info”.
In Windows kan jy op jou foto “regskliek” en dan die “properties” kies. Dan kies jy “detail” en daarin sal jy sien of die inligting nog daar is.
Sou jy in Lightroom werk, is dit by hierdie “export”-venster waar jy die inligting baie maklik kan verloor as jou verstellings nie reg is nie.
‘n Verdere belangrike ding is die ouderdom van jou foto’s.
By ons klub was die reël tot ‘n paar jaar gelede dat geen foto ouer as twee jaar vir die algemene afdelings ingeskryf mag word nie.
Dié reël is op ‘n jaarvergadering geskrap en is daar dus nie meer ‘n beperking ten opsigte van ouderdom op foto’s vir die algemene afdelings nie.
Daar bestaan wel ‘n beperking ten opsigte van temafoto’s (Set Subject) wat nie ouer as ‘n jaar mag wees nie.
Dit is dus belangrik om ouer foto’s dan liewer in ander afdelings in te skryf.
Die bedoeling vir tema-foto’s is eintlik sodat jy met die temas vir die komende jaar bekend, foto’s vir ‘n spesifieke tema gaan neem om jouself te help ontwikkel eerder as ou foto’s wat terloops in die tema pas, op te diep.
Nou ja, dit is ‘n paar van die reëls.
Die beste tyd om foto’s te neem is dus nou.
Neem baie van hulle.
Dis vakansietyd. Maak tyd. Staan vroeg op. Dit is immers die beste tyd van die dag om ons planeet te beleef en ook waarskynlik die beste tyd om foto’s te neem.
Vingers op die knoppies en geniet die feesgety!!!
Fotogroete
J Berto V
“If you are out there shooting, things will happen for you. If you’re not out there, you’ll only hear about it.”
– Jay Maisel