Ons Praat Foto’s
“The camera makes you forget you’re there. It’s not like you are hiding but you forget, you are just looking so much.”
– Annie Leibovitz
Johan Viljoen
Só dikwels hoor ons in fotobesprekings dat jy nie ander se kuns net moet afneem en die foto as jou eie aanbied nie.

Wel, mensegemaakte goed is seker almal iemand anders se kuns of werk en tog is daar afdelings vir bv. produkfotografie en argitektuur in fotokompetisies.
Baie argitekte is kunstenaars by uitstek en hul werk saam met dié van die bouers en pleisteraars en glasmakers en installeerders kan ‘n mens se mond laat oop hang.
Daar is oor die eeue soveel verskillende style van argitektuur – ook hier in die Swartland. In die laaste klompie jare het daar ‘n paar baie moderne huise ook verrys.

Die ander ding wat jy dikwels ook in fotobesprekings en beoordelings hoor, is die sogenaamde “record shot”. Eintlik ‘n foto vir die rekord wat die onderwerp goed uitbeeld, maar niks meer nie. Dit is eintlik die tipiese foto vir die argief om te boekstaaf en vir die nageslag die erfenis op te teken. Niks fout met dié foto’s nie, maar as dit nie ‘n besondere hoek of interpretasie van die gebou(e) is nie, sal dit minder aandag trek en dan eintlik inderdaad net die kunstenaar se werk “kopieer”.
Nou ja, sommige argitektoniese werk is indrukwekkend van haas elke hoek, maar dramatiese wolke of kantbeligting om elemente te laat uitstaan, neem die prentjie meesal na ‘n volgende vlak.

Saam met argitektuur is daar altyd lyne – dikwels herhaling, hoeke, soms boë en selfs sirkels, weerkaatsings, kontras – ook in kleur. Patrone, teksture en simmetrie (ook die afwyking daarvan) is dus van die belangrikste boustene in die fotografie van argitektuur.
Baie fotograwe gebruik besonder wye hoeke om meer van die geboue in te sluit en doelbewus of noodgedwonge lyne te buig. Want dit is wat ‘n wye hoek doen. Die oomblik as jy effektief 45mm of wyer gaan, word lyne gebuig.

As jy nie so ‘n wyke hoek het nie, kan jy altyd meer foto’s neem en hulle las in redigering. Maar dan is dit juis raadsaam om nie wyer as 50mm of 60mm te neem nie, anders las die lyne moeiliker.
Daar word ook dikwels gereken dat ‘n reguit lyn beter is as een wat effe gebuig is, maar lyne wat erg gebuig is en gebruik word om die oog te lei, pla weer nie.
Dit is beslis nie nodig om altyd ‘n hele gebou of geboue in te sluit nie. Die nader skote het dikwels meer abstrakte foto’s van dele van die struktuur tot gevolg.

Matige skaduwees (daar waar die definisie nie heeltemal verlore is nie) word met groot vrug deur geboufotograwe gebruik om klem op seker elemente te plaas. Hier is oggend- en namiddaglig maar meesal beter as in die middel van die dag. Ook wolke in die lug help om negatiewe ruimtes meer interessant te maak.
Vul jou raam, maar daar is ook niks fout met negatiewe (leë) ruimte nie. Dit kan met goeie aanwending en beplanning ‘n foto letterlik maak.

Onthou ook argitektuur is nie net altyd die buitekant van geboue nie. Die kuns/fotogeleenthede van baie geboue is ook aan die binnekante.
Binneshuise fotografie is dikwels ‘n groter uitdaging omdat daar minder lig is en ook omdat jy straks nie baie afstand het nie. ‘n Kunsmatige ligbron of flitslig is soms hier nodig. As dit moontlik is, bons die lig teen die plafon of ‘n muur om skaduwees te beperk.

Strukture is meesal in ‘n omgewing en sou dit vreemd wees om te dink jy kan en moet dit altyd probeer isoleer van die omgewing as jy foto’s neem. ‘n Mens sal seker net dink dat die hooffokus van die foto’s in só ‘n kategorie wel die gebou of argitektuur moet wees, eerder as die omgewing.

Ongewone strukture of elemente daarvan trek altyd aandag – ongewoon in vorm of in kleur.
Wanneer ‘n nuwe ongewone gebou opgerig word, wemel fotograwe baie keer om dit af te neem (dikwels vanaf een hoek) en dan, met tyd, word dit weer al moeiliker om te beïndruk met nuwe foto’s daarvan.

Probeer maar altyd ongewone beligting (soos donderweerwolke) en hoeke en jou foto’s sal meer aandag trek. Gaan terug onder ander ligomstandighede as dit moontlik is.
Gaan lê op die grond of klim op ‘n berg of ‘n ander hoë gebou. Neem skuins. Neem ook 100% simmetries. Onthou die riglyn van derdes. En moet nie bang wees om met oor- en onderbeligting te eksperimenteer nie. Elkeen sal klem op ‘n ander deel van die struktuur plaas. Skoon lyne teen die hemelblou kan goed werk.


Gebruik patrone en teksture.
Eksperimenteer ook met die grootte van jou lensopening om die diepte van veld te varieer.
Tot ‘n volgende fotogesels.
Lekker skiet.
Fotogroete
J Berto V
“Wherever there is light, one can photograph.”
– Alfred Stieglitz