Ons Praat Foto’s
“The camera always points both ways. In expressing your subject, you also express yourself.” ~Freeman Patterson
As jy ‘n voël in die natuur wil afneem met goeie detail, het jy meesal ‘n lens met ‘n lang fokusafstand nodig. En so ‘n lens kan duur wees en dan moet jy ook seker maak jou sluiterspoed is baie vinnig om kamerabeweging uit te skakel (sommige lense en kameras bied darem ingeboude stabiliseerders). As jy dan nog die voël in vlug ook wil vang, kan volgtegniek nogal ‘n uitdaging wees.
Maar gelukkig word voëls mos uitgesluit vir vandeesmaand se tema. Natuur (geen voëls). En het ons nie ‘n wonderlike natuur propvol elemente vir fotografie nie?
Maar straks moet ‘n mens begin deur daar by die PSSA te gaan aanklop vir hul definisie van natuurfoto’s.
Die PSSA sê:
Foto-inskrywings vir ‘n natuurafdeling mag NIE gemanipuleer word nie. (Manipulering word omskryf, want nie alle redigering is in hul definisie manipulering nie. Dit is amper soos peuter met ‘n toneel. Die invoeg of verwydering of skuif van enige element.)
Die sny (“crop”), korreksie van lensafwykings en die verwydering van stofkolle word egter NIE AS MANIPULERING BESKOU NIE.
In natuurfotografie (anders as in fotojoernalistiek) word die vermenging van verskillende blootstellings (“bracketing exposures”) vir ‘n breër dinamiese omvang (HDR) wel ook toegelaat.
Ook word opstapeling van foto’s vir ‘n wyer fokusdiepte (veral in makrofotografie) om ‘n meer realistiese eindproduk te skep, ook normaalweg in natuurafdelings toegelaat. So ook fotohegting (“stitching”) om oorvleuelende foto’s te las vir die groter beeld – dikwels ‘n panorama.
Natuurfotografie is die fotografie en realistiese weergee van dié deel van die wêreld (lewend en nie-lewend) wat NIE mense insluit of deur mense geskep of verander is nie.
Dit sluit dus ook gesnyde blomme in blompotte en rangskikkings uit, asook enige gekweekte plante.
Diere in dieretuine word wel toegelaat, maar nie troeteldiere of plaasdiere nie.
“Vignette” en (selektiewe) versagting van fokus word ook nie toegelaat nie.
Omskakeling na monokroom word wel toegelaat.
Menslike elemente, indien teenwoordig, moet nie afbreuk doen aan die toneel of die onderwerp oorheers nie.
Goed, as ons eers by die definisies verby is, is die onderwerpe legio.
Landskappe (maar dan seker nie bv. aangeplante graanlande nie), die see, wolke, bome, veldblomme, goggas, watervalle, riviere, wilde diere, rotse, die son en en en…
(Sommige van hierdie sal ook vir ander kategorieë soos wildlewe kwalifiseer).
Dit is gelukkig nie nodig om ver te reis nie. Een van Freeman Paterson se boeke is getiteld Photographing the world around you. Letterlik.
Hy praat van gooi ‘n hoelahoep en daar waar dit val, daar gaan staan jy of sit jy en neem af wat jy kan afneem. Vanuit ‘n doodgewone standplaas waar jy gedwing word om te sien.
Dit wat die omgewing jou bied. Als van kleure of die gebrek daaraan tot vorms en lyne, teksture, lig en skaduwee…
Sak bv. op jou knieë en sien die wonderlike fotogeleenthede reg by jou voete. Daardie lae hoek om die blom bv. van onder af te neem, is al klaar ongewoon en sal straks outomaties meer aandag trek as die alledaagse hoek vanaf ons ooghoogte.
Die natuur kan propvol tekstuur wees (dink maar aan patrone op ‘n sandstrand, die blarekombers in ‘n woud of plantegroei op water).
Lyne en vorms. Regop bome in ‘n woud (wel, soms is dit seker ook aangeplant??), branders of rotsformasies, ook plante soos kaktusse.
Oktober, só het Leipoldt gedig, is die mooiste mooiste maand. Miskien wil jy verskil, maar daar is darem regtig nou baie mooi hier om ons. Daar is nog steeds veldblomme en die somerkleure kom.
Al is daar nog plate pers by Yzerfontein, is dit dikwels ‘n nabyskoot van ‘n enkele blom wat jou die wonder van die natuur help sien en weergee.
En dan kom diepte van veld weer ter sprake. Om ‘n enkele onderwerp soos ‘n blom uit te lig, is daar min dinge wat soveel help as ‘n vlak fokusdiepte wat maak dat die agtergrond nie kompeteer nie. Met makrofotografie raak dit weer anders. Dan is die fokus soms weer amper te vlak en is perfekte fokus ‘n uitdaging. As daardie blommetjie net effe wieg in die wind, is selfs Job se geduld te min om ‘n goeie fokus te kry. Dan gebruik makrofotograwe allerlei truuks soos ‘n skerm om die wind af te keer of ‘n wasgoedpennetjie om die blom stil te hou. En as die son te skerp is, kan ‘n wit doek of papier of ‘n reflekteerder bo-oor die onderwerp baie help om die lig te versag of te kanaliseer.
Slange (seker nie dié wat as troeteldiere aangehou word nie) en goggas, wurms en vlieë. Almal elemente uit die natuur wat as modelle vir natuurfoto’s kan dien. Maar natuurlik ook watervalle en branders oor die rotse.
Onthou ‘n vinnige sluiterspoed om jou kamerabeweging uit te skakel en onthou ‘n driepoot.
Lig en skaduwees kan ook reuse-hulpmiddele vir wonderlike natuurfoto’s wees.
En aan die ander kant. Wie het gesê jou natuurfoto’s mag net skerp en in fokus wees? Probeer sommer weer ‘n stadige sluiterspoed vir ‘n melkerige seetoneel. Of beweeg jou kamera.
Die opsies is legio.
Dalk, dalk is dit ook net belangrik om nie dadelik aan die skiet te gaan nie. Staan (sit) eers ‘n bietjie stil. Kyk wat jy sien. Kyk hoe als in harmonie die groter prentjie vorm- soms in ironiese statiese interaksie met mekaar. Sien en komponeer. Soms is daar eenvoud wat die Engelse uitdrukking van Less is More nuwe betekenis gee. Of soms is dit die oorvloed van kleur wat die prentjie volmaak.
Skiet baie. Hou die vingers op die knoppies en gaan vries die oomblikke in die natuur vir weer en weer en nog ‘n keer kyk.
Fotogroete tot ‘n volgende keer.
J Berto V
Thirty-six satisfactory exposures on a roll means a photographer is not trying anything new. – Freeman Patterson