Sononder en sonopkoms

Ons Praat Foto’s

“Photograph: a picture painted by the sun without instruction in art.” – Ambrose Bierce

Geel en oranjerooi selfs ‘n magenta-pienkpers of ‘n violet.
Maar die kleurespel met sonsopkoms en sononder kan ‘n legio kleure aanneem en binne minute van een spektrum na ‘n ander verander.
Dit is só anders as deur ‘n gewone dag en daarom waarskynlik dat dit vir ons so ‘n bekoring inhou en verwonder ons ons daaraan.
Die sonlig, só sê die kenners, moet veel verder na ons oë reis as die son op die horison hang. Weens die verskynsel van verstrooiing waar klein partikels in die atmosfeer die lig in verskeie rigtings buig, word die lig se kleur dan beïnvloed. Met die langer golflengtes word die lig rooier en met die korter golflengtes weer blou en violet (laasgenoemde moeiliker sigbaar, daarom dat die lig in die dag blouer lyk). As die lig se pad lank genoeg is, word die bloue en violette so verstrooi dat dit nie jou oog bereik nie.

Die kort en die lank daarvan is maar net dat sonop en sononder ons dikwels na ons kameras laat gryp. Want die kleure is so besonders. Daar is immers net soveel minder swart-en-wit sonop- en sononderfoto’s wat werklik die verbeelding aangryp.
As jy die son daar laag wil afneem, doen jy eintlik iets wat ons deur die dag nie sommer sal doen nie. En dit is om direk na die son te skiet. Daardie groot lig is net in so baie opsigte ‘n “no no”.
As jy dit wel sal doen, gaan wat ook al in cie voorgrond is, ‘n swart silhoeët wees. Ja, dit kan soms werk, as dit is wat jy wil hê, of jy kan natuurlik invulflits gebruik.

Maar terug by sonop en sononder. As jy na die son skiet en dit reg wil belig sodat dit nie ‘n erge wit uitgewaste kol is nie, sal jy na alle waarskynlikheid die res van jou toneel onderbelig.
Dit kan meebring dat daar min of haas geen definisie in sommige dele is nie. En, ja, soms werk dit as dit darem nie die meerderheid van jou foto in beslag neem nie.
Baie keer verskoon kykers (gelukkig darem ook sommige beoordelaars) die son wat onvermydelik ‘n bietjie uitgebrand is, maar die groot, oordonderende, definisielose pikswart gedeeltes lok baie meer kritiek.
Een manier om dit te omkom, is die HDR (High Dynamic Range)-metode. Hiermee neem jy ‘n paar foto’s met verskillende blootstellings – oor-, middel- en onderbeligting. (Onthou net om dan op ‘n driepoot te skiet om die komposisie presies dieselfde te behou.) Sommige kameras en selfone het die samesmeltingfunksie ingebou, maar anders (en waarskynlik beter omdat jy self beheer daaroor het) doen jy dit dan in redigering met sagteware soos Lightroom en ander.

Daar is ook ‘n skool wat praat van Expose to the Right (ETTR). Beligting/Blootstelling na regs (BNR).
Dit is wanneer jy meer lig gee as wat jou kamera voorstel op die middelste strepie (sogenaamde regte beligting) van die beligtingslyn. Met BNR belig jy dan na regs om die foto so helder moontlik te maak sonder om te ver te gaan en te veel uitgebrande dele te kry. Só laat jy soveel moontlik lig toe vir die donkerder gedeeltes.
Weer sal jy dan in redigering waarskynlik die kontras en kleur in sommige gedeeltes van jou foto kan aanpas na smaak – die skaduwees lig en die helder gedeeltes effens verdonker.
Oorbeligting is egter iets waarteen jy moet waak, omdat ook daardie wonderlike vol sonsak- en opkomskleure dan kan verdwyn en al moeiliker herwinbaar raak.
Omdat jy soveel inligting moontlik wil vasvang om te kan redigeer, is RAW-formaat maar die antwoord. Jy het dan net soveel meer om mee te werk.
Selfs baie selfone het ‘n RAW-opsie.

Gepraat van selfone. Onthou om op ‘n paar plekke op jou skerm te druk om te sien hoe die beligting verander na gelang van waar die ligmeting geneem word voor jy die foto neem.

Wanneer jy redigeer, moenie vergeet van die Witbalans nie. Daarmee kan jy ‘n wonderlike atmosfeer in jou foto’s uitlig.
Ook die “tint”-funksie kan meer warmte in jou foto gee.
Natuurlik is dit smaak. Die een wenk sê: “Neem dit tot daar waar dit vir jou reg lyk, en gaan dan ‘n klein bietjie terug.”
Onnatuurlik in ‘n natuurfoto kan soos ‘n seer oog uitstaan en moeilik om mis te kyk. Maar jou smaak, ook met die HDR-funksie, is al wat saak maak. Die HDR-funksie kan ook baie vinnig onnatuurlik lyk eerder as om net vir die kamera se onvermoë te kompenseer.

Baie fotograwe gebruik ‘n geleidelike verdonkeringsfilter (graduated ND) met die donker gedeelte bo die horison om juis die groot ligverskil teen te werk.
Ander gebruik redigering (bv. “Linear Gradient Masking” in Lightroom) om dit te doen, maar vir baie is eersgenoemde die eerste keuse.
Die sagteware is deesdae baie “slim” om jou te help om net die lug (“sky”) te selekteer en aan te pas. Waak egter maar altyd daarteen om te veel na een kant te verwerk, want dit kan baie maklik ‘n steurende sigbare lyn op die horison veroorsaak.

Met komposisie: Ons raak baie maklik weggevoer deur ‘n pragtige toneel en wetende dat die lig binne oomblikke kan verander, wil ons net begin skiet. Maar komposisie is dikwels die verskil tussen ‘n uitstekende foto en ‘n haas onverbeterlike foto.
‘n Pragtige sononder is mooi, maar dikwels kan iets in die voorgrond net die ekstra element of dimensie/diepte aan die foto gee om die 2D-realiteit teë te werk.

Onthou dinge soos:
Interessante hoek: Klim op iets of gaan lê plat.
Moenie bang wees vir swart nie, maar hou dit in gedagte met komposisie. Hoeveel swart jy insluit.
As jy ‘n naby onderwerp in die voorgrond het, kan jy ‘n flits daarop gooi. Jy kan ook jou flits se intensiteit ‘n bietjie afstel of opstel of ‘n wit papier of sakdoek direk voor die flits hou om dit te versag.

As jy water kan insluit, gee dit nege uit die tien keer ‘n wonderlike ekstras element aan jou foto.

Die horison: As daar een is, kan dit steurend wees as dit nie perfek reguit is nie. ‘n Horison op ‘n derde (boonste of onderste) werk dikwels (nie altyd nie) beter as in die middel.
En waak daarteen dat die son presies in die middel is, behalwe as alles perfek saamwerk vir ‘n simmetrie, maar dan sal ek steeds ‘n paar neem met die son weg van die middel.

Die lig raak vinnig minder soos die son sak, so hou dit in gedagte, veral as jy nie een van die outomatiese verstellings gebruik nie.
Driepoot is altyd beter. Dit gee stabiliteit en gee jou ook meer tyd vir komposisie. (“It just slows you down.”) Maar dit laat jou ook toe om ‘n langer blootstelling te doen as die lig minder raak.

Beplan. Daar is toeps (Apps) soos SunCalc waarmee jy kan kyk waar die son op ‘n gegewe dag en uur sal wees. Daar is ook ander wat die weer en wolkbedekking voorspel. Gaan vroeg om ‘n goeie komposisie te soek en ook ander foto’s van die toneel te kry voor die son werklik sak. As dit moontlik is, gaan meer as een keer terug na dieselfde plek. Later ken jy die toneel so goed vir komposisie en ook sonposisie, dat jou foto’s waarskynlik elke keer beter sal raak. (Hierdie wenk het Hougaard Malan onlangs by ‘n landskapfotografiewerkwinkel gegee).
Natuurlik is diepte van veld steeds belangrik. F8 tot F11 is ‘n redelike goeie goue middeweg vir landskappe.

Wees voorbereid. Want as die son begin sak, dan gaan dit vinnig. Hierdie foto en die volgende een is letterlik 8 minute uit mekaar geneem.

As jy enige landskapfoto’s neem, veral met wonderlike lig, kyk altyd ook direk agter jou. Daar is soms net sulke goeie of selfs beter fotogeleenthede.
Wolke wolke wolke. Dit gee meesal (weer nie altyd nie) net soveel meer dimensie aan die lug.
Probeer altyd om die skoot – komposisie en beligting – so goed moontlik binne-in die kamera te kry. Dan sal jou uitkoms ná redigering altyd beter wees.
Geniet die vroeg en laat sonfoto’s.


Tot ‘n volgende keer.
Vingers op die knoppies.


Op jou eie tyd op jou eie teiken. VUUR!!


Groete
J Berto V

A good photograph is knowing where to stand. – Ansel Adams

Leave a Reply