Makro- en nabyfotografie

Ons Praat Foto’s

If it is not close enough, it is not good enough…

Johan Viljoen


Wel, dit is ‘n onderwerp vir ‘n debat oor ‘n paar glasies goeie rooi uit die Swartland.
Jare in die koerantwêreld en in fotojoernalistieke gesprekke wanneer soms baie vinnig voor saktyd gekies moes word tussen foto’s wat die paal sou haal, was dit weliswaar dikwels die naby skote wat die ander opponente uitgestof het.
Daardie ongewone skote wat so ‘n naby kyk op die onderwerp (dikwels mense in daardie geval) gee en iets vertel wat ons nie altyd sien nie.
Wel, dit is in baie fotogenres seker so, en ook in makro- of nabyfotografie.

Dié twee is eintlik dieselfde ding. Die een is net die ander een op steroïdes. Makro is net nabyfotografie tot die ekstreem. Dikwels gebruik om blomme of insekte of juweliersware of ander klein goedjies af te neem.
Nie noodwendig so maklik soos dit klink nie, maar as dit werk, werk dit goed. Juis waarskynlik omdat dit vir ons iets wys wat ons nie altyd sien nie of dikwels goedsmoeds daarby verby loop.

Vir makro om makro te kan wees, sê die PSSA se definisie:
“Die grootte van die onderwerp in die voltooide foto is gewoonlik groter as lewensgroot en openbaar detail wat nie maklik met die blote oog gesien kan word nie.”
Ons tema vir Junie is Makro- EN Nabyfotografie.

Dit los die agterdeur ‘n bietjie oop. Dus sal ‘n goeie naby skoot van jou onderwerp ook werk.
En manipulering. Wel, dit resorteer onder die ope afdeling, so manipulering is aanvaarbaar. Pasop net as jy dit iewers onder natuur of wildlewe wil inskryf. Dan is die reëls meesal strenger.

Maar terug by Makro en Naby.
Die toerusting. Die eerste prys is natuurlik ‘n makrolens wat doelgemaak is om naby genoeg te fokus om die spataartjie in die mier se oog te isoleer. Ja ja…
Nee, maar makrolense is wonderlik vir dié genre.
Gelukkig is daar ander opsies ook. Baie kompakte kameras en ook selfone het ‘n spesiale verstelling of vermoë om naby genoeg te fokus. Want dit is die probleem met die meeste gewone lense. Hulle kan eenvoudig nie fokus as jy nader as 40 of 50cm van die onderwerp af is nie.
Met ‘n lang telefotolens kan jy natuurlik nabyfoto’s neem, maar nie makro nie.
Dan is daar die opsie van verlengingsbuise (“extension tubes”) wat tussen jou kamera en lens pas om daardie fokusafstand te krimp en daar is ook spesiale filters (“close up filters”) wat voor op jou lens skroef vir dié doel.

‘n Paar van die uitdagings met makrofotografie is lig en fokusdiepte en dan ook stof.
Hoe nader jy aan jou onderwerp beweeg, hom minder lig is daar. Ook natuurlik omdat jyself van die lig wegkeer. Jy sou dan jou lens groter wou oopmaak, MAAR makrofotografie het ook die uitdaging dat diepte van veld bitter nou raak as jy van baie naby kan fokus.
Daarom kan die weerkaatsing/inkaatsing van lig of die gebruik van ‘n flits soos ‘n ringflits jou baie help om lig op die onderwerp te kry.
Omdat fokusdiepte ook ‘n uitdaging is en jy baie keer ‘n groter diepte van veld wil hê, maak baie fotograwe van sogenaamde fokusopstapeling (“stacking”) gebruik. Hulle monteer die kamera op ‘n driepoot en neem dan tot soveel as ‘n honderd of tweehonderd foto’s met die fokus op verskillende plekke. Dit word dan in redigering op mekaar gestapel met sagteware vir die eindresultaat.

Gebruik gerus ‘n afstandbeheer of die sluitervertragingsfunksie om kamerabeweging te beperk.
Fokus. As jou kamera sukkel om te fokus (“hunt”), skakel oor na handmatige fokus. Dan het jy baie beter beheer.
As jy goggas of vlieënde insekte wil afneem, is dit belangrik om, soos met voël- en wildlewefotografie, die onderwerp se leefstyl en maniere te leer ken om te kan voorspel en te antisipeer. Jy sal bv. vind dat sommige van hulle stadiger beweeg of stil sit in die oggend wanneer hulle nog koud of selfs natgedou is. Bingo!!!
Praat van dou. Dou kan wonderlike makro- en nabyfoto’s maak. En onthou, ‘n dier – groot en klein – se oë is van die belangrikste om aandag te trek. Probeer daarop fokus.

Stof het een van die uwe se vyande geword. Eintlik maar omdat ‘n digitale SLR wat baie buite gebruik word, maklik stof op die sensor kan optel en hoe kleiner jou lensopening, hoe meer stofkolle is daar op jou foto. Dan moet hulle een vir een weggeredigeer word.
Makrofotografie is opwindend, want jy kan soveel items in jou eie huis – kombuis of tuin – kry om ongewone foto’s te neem. So naby en van ‘n hoek waarvan jy nog nooit daarna gekyk het nie.

En as jy nie makrotoerusting het nie, neem die onderwerp van naby af met jou langste lens.
Dieselfde riglyne en visuele boustene geld soos vir ander genres.
Komposisie. Lyne. Patrone. Teksture. Vorms. Kleur. Skaduwees. Minimalisties. Alles boustene om te gebruik.
In jou huis by ‘n oop venster kan jy met natuurlike lig ook wondere in dié genre verrig.


So waarom wag.


Laat die films rol al is dit net by wyse van spreke.


Fotogroete
J Berto V

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *