Portretfotografie

Ons Praat Foto’s

When I say I want to photograph someone, what it really means is that I’d like to know them. Anyone I know I photograph. – Annie Leibovitz

Johan Viljoen

Portretfotograwe het uiteraard meer as een doel voor oë.
Een wil straks haar/sy interpretasie van iemand op die fotomedium vasvang.
‘n Ander wil straks die persoon so natuurlik moontlik vasvang en uitbeeld. Maar ook dit sal altyd vanuit ‘n hoek of persepsie wees.
En omdat daar soveel hoeke/aanslae vir portretstudies kan wees, is dit soos met enige genre onmoonlik om reëls vas te lê.
Daar is en sal egter altyd metodes en tegnieke wees wat in die meeste gevalle beter werk.
Ek het by deurwinterde portretfotograaf Ad Goedhart op Riebeek-Kasteel gaan sit en oor portretfotografie gesels.
Goedhart is ‘n deurwinterde mode- en portretfotograaf. Hy het aan die Foto- en Kunsakademie in Nederland studeer en daarna sy eie ateljee in Den Haag begin. Nou woon en werk hy in die Swartland.

Daar is ‘n verskillende tipes porttretfotografie. Ad se studiowerk kom ‘n hele klompie dekades. Hy was jare gelede al ‘n professionele fotograaf in Nederland.
“In ‘n studio is dit makliker, want jy kan jou lig beheer.
“Ek werk meesal met twee of drie ligte. ‘n Bokslig wat ek teen ‘n 45 grade hoek redelik naby en bo van voor af opstel. Daarmee saam ook meesal ‘n silwer reflektor wat die model voor haar/hom kan vashou of ek monteer dit op ‘n staander. Die doel daarvan is om lig van onder terug te kaats. Dit haal onder andere die kontras onder die ken weg.” Daarmee saam, verduidelik hy, is daar dan minder definisie onder die ken om minder klem daar te lê.
Hy plaas dan ook ‘n lig agter die model – eksperimenteer met die hoek (soms 45 grade) om as’t ware meer lewe ook in die model se hare te kry.

Oor posering sê Goedhart is dit belangrik om die model op haar/sy gemak te kry. Met byvoorbeeld ‘n glasie wyn of eers ‘n bietjie gesels om ‘n band tussen fotograaf en model te bewerkstellig wat outomaties tot meer gemak en vertrou lei.
“Laat die model werk/beweeg. Stadig beweeg. Probeer ‘n klomp verskillende posisies. Verskillende hoeke en ook met hul hande. Daar is heelparty video’s op die internet en sommige van die posisies sal jou bybly. Hande op die heupe of onder die ken. Hande in die hare. Onder die ken. Hande in die sakke selfs. Laat die model effe skuins draai as hulle staan of sit. Ook ‘n bietjie vooroor leun.
“Laat hulle teen ‘n deur of muur staan. Dit werk altyd beter. Jy kry dikwels dat modelle hulle kop skuins hou, maar dit is maar meesal beter as die kop meer regop is.

“Neem ‘n hele paar foto’s. Minstens vyf van een posisie en let op die mondhoeke. Effe op of af kan die wêreld se verskil maak.
“Neem die meeste foto’s op ooghoogte. En sorg dat die oë skerp in fokus is. As die model skuins staan of sit, fokus op die oog die naaste aan jou. Werk met akkurate “spot focus” sodat daardie oog baie skerp is.”
“Ek skiet graag op f4 tot f5.6. Al is dit byvoorbeeld met my 70-200mm f2.8-lens.”
“En onthou, as jy die agtergrond donkerder wil hê, beweeg net die model verder van die agtergrond af weg. Die lig wat jy op die model skyn, val baie vinnig weg agter die model. ‘n Wit muur as agtergrond is bv. baie lig as die model teen dit is, liggrys as die model effe verder weg staan en later donkergrys en amper swart as die model ver daarvan weg is.”

En buite?
“Nooit in direkte son nie. Nooit. Nooit.
“Onder dak of bewolkte weer gee baie mooi foto’s.
“Belig altyd liewer effe onder as oor. As die wit uitgewas is, kan jy dit nooit ooit herwin nie, maar jy kan altyd weer die donkerder gedeeltes ‘n bietjie optrek. Sorg dus dat niks verlore is nie.”
“As jy portrette buite skiet, gebruik maar jou lensopening om die diepte van veld te beheer en die agtergrond uit fokus te gooi sodat dit nie met die model kompeteer nie.” Kyk ook maar na detail. Jy kan baie maklik jouself of ander se weerkaatsing in jou model se bril vasvang.


En redigering? “Met die redigering: manlike modelle gee meesal nie om vir ‘n effe growwer vel nie, waar die meeste vroulike modelle weer ‘n gladder skoner vel verkies. Jy kan dit in redigering sagter maak, vlekkies wegredigeer en ook skaduwees nog effe meer versag.
“Jy kan ook deur op die oog se wit en pupil te werk altyd dramatiese verbetering in die foto’s sien.”
Gebruik jou kamera om die storie te vertel.
In joernalistiek is daar ‘n skool wat sê: If it is not close enough, it is not good enough.
Maar dit vertel dikwels nie die storie van die model se omgewing en werkplek of woonplek nie. Sluit gerus daarvan in. En dan is natuurlike lig wast deur ‘n venster inval soms juis die verskil tussen ‘n baie “dooie” en “plat” foto en een met atmosfeer en diepte.

Maak werk daarvan om portretfoto’s te maak. Leibovitz sê jy kan begin met die mense naby jou.

Groete eers en skiet die mense
J Berto V

Om Leibovitz weer aan te haal. “Coming tight was boring to me, just the face… it didn’t have enough information.”


En miskien nog een van haar aanhalings: “You don’t have to sort of enhance reality. There is nothing stranger than truth.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *