Produkte

Ons Praat Foto’s: Produkfotografie

Johan Viljoen

“A good product photograph can make or break the first impression on a buyer.”

Ons is die produk van ‘n reeks bestanddele wat ons op ‘n unieke metode gevorm het.

Daarom sal elkeen ook verskillend kyk na produkte en selfs die definisie van ‘n produk alvorens jy by die maak van produkfoto’s (reklamefoto’s) kan kom.
Daar is uiteraard tasbare produkte en nie-tasbare produkte en dit is die skepper en kyker/beoordelaar van produkfoto’s se prerogatief om daaroor ‘n mening te hê.
Tasbare produkte is straks breedweg ‘n artikel(s) of grondstof(wwe) wat vervaardig of verfyn word tot ‘n produk om te verkoop. Dus enigiets wat op die een of ander manier vervaardig en selfs gebou is. Moontlik die grootste vragskip op kleinste elektroniese komponent of juweliersware.

‘n Nie-tasbare produk kan net nie-tasbaar waargeneem word en is moontlik iets soos ‘n lewens- of begrafnispolis wat deur ‘n versekeraar aangebied.
Die doel van produkfoto’s is sekerlik om die produk só uit te beeld dat dit aanloklik lyk vir die potensiële klant en kliënt om dit aan te skaf. Dit kan in bemarkingsveldtogte – elektronies en in drukvorm – gebruik word.
En dit is amper ‘n kuns en ‘n wetenskap op sy eie om te bemeester, want jy moet jou mark ken om te weet waarop jy moet fokus, om mense in die rigting van ‘n transaksie te stuur.
Soms is dit sogenaamde “pack shots”(produkskote) – ‘n foto van die produk wat die verpakking en etiket vertoon. Soms is dit ‘n foto wat juis mense insluit om meer emosie in te bring. En soms is dit eerder die produk in ‘n omgewing wat dit in konteks plaas. Soms is dit die insluit van die handelsmerk en soms die produk alleen.
Dit is belangrik om vooraf oor die konsep van jou foto’s te besin. Wat die sterkpunt van die produk is om op te fokus en ook die estetiese. Dit is ook belangrik om dit realisties te hou om moontlike wanvoorstelling uit te skakel. Ook kleur en die kleur van beligting en witbalans kan die produk onrealisties laat vertoon. Baie kameras maak juis voorsiening vir verskillende tipes lig en kan daarvolgens verstel word.

Dalk ‘n baie ligte foto vir meer van ‘n ligte luim en straks amper ‘n somer-gevoel of, aan die ander kant, meer ‘n dieper donkerder knus wintertema-foto soos by ‘n kaggel – ‘n stomende drankie of ‘n glas rooiwyn. Soos in kosfotografie.

Hier is dit belangrik dat seker disse/drankies nie vir ure lank op hul beste vertoon nie, so tyd en voorafbeplanning is nodig om daardie produk op die varsste vinnig af te neem.

Al kan ‘n omgewing beslis tot jou storie bydra met ekstra elemente, is dit meesal beter dat die fokus nie van jou hoofonderwerp weggetrek word met ‘n te besige agtergrond of by-elemente nie.
In ‘n produkskoot is dit nie so maklik om beligting op byvoorbeeld ‘n wynbottel reg te kry nie, al is jy in ‘n studio met beheerbare beligting. Sommiges in die bedryf verwag amper weerkaatsinglose foto’s en dit is baie moeilik.


As jy ‘n produk afneem, kan dit raadsaam wees om dit juis ver van ‘n agtergrond te kry en jy van so naby moontlik met ‘n klein lensopening neem om die grootste deel van die produk in fokus te kry, maar dit steeds van die agtergrond te isoleer. ‘n Groter lensopening kan egter ook werk om die agtergrond minder kompeterend te maak.
Hier is ‘n driepoot baie waardevol. Nie alleen laat dit jou ‘n stadiger sluiterspoed toe nie, maar dit maak ook jou hande los en help jou met meer tyd vir opstelling en komposisie. Soms wil jy juis ‘n paar verskillende produkte of van dieselfde saam afneem met verskillende hoeke om meer sye te wys. Lyne in veral vierkantige produkte kan lei tot perspektiefprobleme as jou hoek/aansig nie reguit is nie. ‘n Halfskuins aansig werk dikwels goed om meer diepte en perspektief te skep en ook om meer van die produk se kant vir die kyker te wys.

Weerkaatsings kan baie sleg wees in produkfotografie, maar met die nodige weerkaatsmateriaal/toerusting kan jy juis lig inbring in donkerder dele van jou foto waar jy graag meer wil wys.
Ernstige produkfotograwe in ‘n studio koppel ook hul kamera aan ‘n rekenaarskerm om beter te kan sien as die klein bedrieglike beeld op ‘n kameraskermpie.
Ekstra beligting word in baie produkfotografie gebruik, selfs buite vir minder kontras tussen lig en skaduwee. Invulbeligting is in elk geval ‘n goeie hulpmiddel ook met buitelugportrette. Sagter lig (wat deur ‘n doek of ligverspreider of selfs wit papier kom) kan help om ‘n produk minder hard te laat vertoon. Daar word dikwels binne in ‘n sogenaamde ligtent foto’s geneem waar die lig rondom die produk eweredig deur die doek inval om skaduwees te vermy. So ‘n selfgemaakte tent met ‘n karton wat oopgesny en die oop kante met ‘n wit deursigtige doek bedek word, werk uitstekend.
‘n Produk kan ook klere wees. Dus weer ‘n “pack shot” of waar ‘n model dit dra. Weer eens op so ‘n manier dat die styl en snit van die betrokke uitrusting goed uitgebeeld word.

‘n Duur toegeruste studio is nie nodig nie. Met natuurlik lig wat van ‘n kant inval, kan ‘n produk ook van ‘n donkerder agtergrond geïsoleer word.
Wanneer nie-tasbare produkte uitgebeeld moet word, word daar dikwels van mense/modelle gebruik gemaak. Maar hier is dit belangrik (met die oog op klubfotografie) dat die boodskap duidelik uitgebeeld word. Straks senior mense wat vir lewensversekering gebruik word. Dan is dit dalk goed om die handelsmerk in te sluit of by die titel van die foto in te sluit. Maar nie elke beoordelaar sal op dieselfde manier daarna kyk nie.
Met produkfotografie is skaal ook soms belangrik – veral as jy juis die grootte van die produk wil uitbeeld teenoor ‘n bekende produk of element wat die skaal vir die kyker duidelik sal maak.

Probeer ook altyd die produk so skoon en mooi moontlik kry voordat jy dit afneem. Dit is altyd beter om soveel moontlik binne die kamera reg te kry, eerder as ure se redigering ná die tyd.
Naby foto’s van ‘n produk kan baie onvergewend wees as daar merke/of ‘n skeurtjie in verpakking of stof of kolle is wat pla.
Spandeer dus ‘n bietjie tyd daaraan ook voor jy die foto neem.



Tot ‘n volgende keer

Geniet die produkte-fotografie.

In ‘n tyd van ‘n selfoonkamerakultuur en miljoene klieke op een dag, is dit só maklik om die waarde van professionele spesialisfotografie soos vir advertensies te negeer – en dan die prys daarvoor te betaal.


J Berto V

“The worst enemy to creativity is self-doubt.” – Sylvia Plath

Leave a Reply