Snaakse of humoristiese beelde

Ons Praat Foto’s

“If you saw a man drowning 20 feet away and you could either save him or photograph him…what lens would you use?” – Anonymous
Ek weet dit is glad nie snaaks nie, maar dit is tóg op ‘n manier tekenend snaaks, veral as jy al vir 35 jaar joernalistiek pleeg…

Jare gelede hou die gevatte en geëerde taalkenner wyle prof. Johan Combrink ‘n praatjie in die Paarl nadat hy o.a. ‘n paar taalskertsende boeke met kwinksinnige Lagfrikaans die lig laat sien het.
Hy verduidelik dat jy ‘n bepaalde institusionele kennis benodig om ‘n grap of komiese storie te snap.
Hy lig dit toe aan die hand van die volgende voorbeeld.
Die seuntjie sê vir sy Ma: “Ek weet waarom Mamma en Pappa geskei is.
“Ek het in Mamma se identiteitsboekie gesien Mamma kry ‘n F vir seks.”

Maak Los!!!

Sien, ‘n mens moet weet waarvoor die F in die boekie staan en ook wat ‘n F in skoolterme op jou rapport beteken om die grappie te snap. Institusionele kennis
Nou as dit kom by komiese of snaakse foto’s, sal nie elkeen by al die foto’s aanklank of dit ewe amusant vind nie. Jy het ‘n bepaalde kennis of agtergrond nodig.
Daar is lang debatte oor die benaming van foto’s en of dit nodig is en of ‘n foto sonder ‘n naam beoordeel moet word.

Keer die wedstryd op sy kop

As dit by hierdie tema kom, kan die benaming van ‘n foto virseker help om jou kunswerk toe te lig. Die kunstenaar en die kyker/beoordelaar het eenvoudig verskillende agtergronde. weer kan jy lank debatteer oor of jy met ‘n benaming die kyker/beoordelaar moet lei en of hul hul eie “spin” op jou (nou openbare) kunswerk moet sien.

Twee perde baklei oor ‘n been en die derde een kry ‘n ….luis

Besluit maar self oor jóú siening oor die volgende stelling van Elliott Erwitt: “Die hele punt van foto’s neem is sodat jy nie dinge met woorde hoef te verduidelik nie. Net so, as jy ’n grap moet verduidelik, is dit nie snaaks nie.” (Erwitt is bekend vir sy swart-en-wit-in-die-oomblik-foto’s van ironiese en absurde situasies binne die alledaagse.)

Verkoue

Nietemin. Om komiese momente vas te vang, kan ‘n besondere kuns wees. Grotendeels waarskynlik omdat dit dikwels net vir ‘n vlietende oomblik bestaan en dan verlore is om te dokumenteer.
Jy moet dus half op jou hoede wees. Kamera half gereed hê en amper met ‘n ekstra sintuig die komiese oomblik voorsien.
Want jou hoek of posisie kan die verskil wees tussen ‘n foto wat werklik werk en een wat maar bra gemiddeld is of glad nie werk nie.

Bad hair day

Erwitt het ook gesê: “All the technique in the world doesn’t compensate for the inability to notice.”
As jy op jou kamera se vol outomatiese vermoë wil staatmaak, omdat daar nie baie tyd is nie, maak so. Of hou jou kamera op lensopeningvoorkeur met min diepte van veld dalk. Dit is in sulke situasies wat deeglike kennis van jou kamera help as jy nie moet rondsoek vir verstellings nie.
Dit is ook veilig om jou kamera (as dit die opsie bied) dan op vinnige herhaling (“continuous”) te hê sodat jy ‘n paar foto’s vinnig ná mekaar kan neem. Voorts is dit altyd veilig om jou kamera ná gebruik weer na ‘n “happy medium” terug te verstel, juis vir situasies soos hierdie.
In die algemeen lag mense maklik vir snaakse aksies by diere en vandaar ook talle fotokompetisies vir snaakse dierefoto’s. Hul aksies word dikwels aan dié van mense gemeet.

Vasbyt

Maar snaaks is relatief. Snaaks kan jou laat kraai soos jy lag of iets kan net besonder buitengewoon wees en dan word daar in sekere kringe gepraat van: “Dit is nogal snaaks … (dié optrede).

Sê “A” vir die dokter.

Daar is ook die tegniek van jukstaposisie, waar jy met komposisie twee voorwerpe/onderwerpe neffens mekaar op jou foto plaas maar die skaal verwronge is of jy die twee juis op dié manier verbind vir ‘n nuwe storie/boodskap.
En natuurlik is mense wat spontaan lag dikwels ook ‘n goeie onderwerp om af te neem. Naas die feit dat lag aansteeklik is in die situasie en ook op foto’s, kan daar ekstra komiese oomblikke uit so ‘n lagsessie voortspruit. Mense kan baie laf wees. Ook kinders van kleins af.

A Crabasaurus – (all about the angle)
(ja, hy is ‘n bietjie gemanipuleer om jukstaposisie te vergroot)

Laat daar lag wees.
Die jaar 2022 lê pens en pootjies op sy rug en mag 2023 vir jou in besonder vol lag, geluk en voorspoed wees.

Dubbelken


Hou die vingers op die knoppies en maak baie foto’s.
Elke foto is ‘n stukkie geskiedenis wat nooit weer herhaal sal word nie.


Fotogroete
J Berto V

On being asked what he would save first if his house were on fire, his wife or his negatives, Ansel Adams responded:

“My wife, of course. Then I’d have her get the negs out!”


Ek weet dit is ook nie snaaks nie, maar tog snaaks!

Leave a Reply