Landskappe & City Scapes

Ons Praat Foto’s

“Landscape photography is the supreme test of the photographer – and often the supreme disappointment.” ~ Ansel Adams

Tussen ene en nulle…Toe die uwe se DNA-skakelaars gerig is, het die avontuurskakelaar op nul bly staan. En daar het dit seker maar vasgeroes.
Tóg, as daar ‘n foto-geleentheid kom, sal hy daardie skakelaar vir die oomblik – net vir die oomblik én vir die godin van fotografie genaamd Ka-mera se onthalwe – bypass.
Só was dit ‘n klompie jare gelede kort ná die opening van die (toe baie hoë) The Big One-tuimeltrein by Blackpool aan Engeland se noordweskus. Net daarop geklim omdat hy die rit met ‘n videokamera in die een hand wou vasvang. By die eindpunt was sy bril stukkend gedruk op sy gesig, maar die beeldmateriaal was darem daar.
Soortgelyke besluit geneem om in die weermagdae in te stem om saam met waaghalsige lugmagvlieëniers in ‘n deurlose helikopter grotendeels sywaarts oor Riemvasmaak te vlieg (hangend aan die veiligheidsgordel) vir wonderlike foto’s van onherbergsaamheid.
Waaghalsigheid bly andersins egter agter slot en grendel toegesluit.

Maar fotografie is anders. As jy nie wil waag nie, moet jy waarskynlik vir Ka-mera snoesig in haar sak haar beauty sleep laat slaap.
Niks fout daarmee om stadig te begin en te verken nie. Eers ligweg op outomaties en dan al verder en verder met die een verstelling na die ander al nader aan jou vryheid. Waag elke keer so ‘n bietjie meer.
Gebruik eers die lensopening-voorkeurmodus en eksperimenteer. Behalwe met ‘n selfoon, is F8 normaalweg ‘n goeie goue middeweg. Onthou geen kamera of lens is op sy beste op sy verstes nie. M.a.w. op sy wydste (as jy ‘n wyehoek-lens gebruik) of op sy kleinste lensopening (f22 of so) as jy als in fokus wil kry. Niks fout daarmee nie, maar die middel gee altyd beter resultate. Werk stelselmatig oor tyd na jou eie verstellings. Waar jy als self beheer.

O, ja. Eintlik is ons vandeesmaand mos by skap. Jy moet ‘n skap skep. ‘n Landskap of ‘n stadskap (twyfel of daar ooit hierdie woorde in ons taal bestaan en wil my nou nie die gramskap van die taalmense op die hals haal nie). Maar meer nog. Die opdrag is Powerful Landscapes or City Scapes. Wel. Kragtig en kragtig is twee. Praat ons van Simson of van Piet Muis.

Nietemin.
As jy ‘n skap moet skep. Die berg kan uiteraard nie beweeg nie. Loop rond. Verken en skuif jouself vir ‘n ander hoek. Doen iets ongewoon. Gaan lê op jou rug of klim op jou dakrak of jou trapleer. Of die hoop bousand op die oop erf. Of sommer op die bak van jou bakkie of staan net op daardie trekstang agter jou voertuig om jou hoek net effe te verander. Om net meer van daardie boom oor die rand se onderkant in te kry. Of bo-oor iets in die voorgrond te sien.

Fotografie is eintlik mos lig en sal altyd lig wees.
Die hoeveelheid lig gaan dikwels ‘n groot deel van die kragtigheid van jou foto bepaal.
Ook hoe en waar die lig versprei is en of dit drama skep – dikwels met kontrasterende gedeeltes waar daar minder en meer lig (son) skyn.
Ook kontras in kleur. Komposisie en lyne wat jou oë lei. Vorms soos driehoeke en sirkels is baie sterk. Dalk ‘n bal of ‘n ovaal soos die Kaapstad Stadion wat onmiddellik aandag trek.
En die debat van landskap/natuur en mensgemaakte goed? As jy die afgryslike Eskom- of Telkomletsels in ons landskap nie kan vermy nie (if you can’t beat them), gebruik hul straks as lyne om die oë te lei.
Vroegoggend en laatmiddag is die lig altyd (nie altyd nie, maar eintlik altyd) beter as in die middel van die dag. Die goue uur – letterlik en figuurlik – maak wonderlike landskappe.

Reën reën lieflike reën. Van die helderste landskappe (nie noodwendig altyd wat jy soek nie, want besoedeling en stof kan wonderlik met son aan die flankeer gaan vir pragtige landskappe of skylines) lê en wag as die son weer gesig wys direk ná die aardewas-dag.
Sluiterspoed en landskappe is meer in mekaar verweef as die paartjie in Annie Leibowitz se ikoniese Lennon-Ono-portret. Jy kan die wonderlikste pragtigste toneel en komposisie en “powerful light” hê, maar as jou sluiter te lank oop is, kan dit jou groot teleurstelling bring.
Sommige mense is baie goed geanker op moederaarde en hulle kan met voete uitmekaar en elmboë teen mekaar vir Ka-mera relatief stil hou vir ‘n foto, maar as jy die prent wil vergroot, begin dinge ‘n bietjie wollerig raak.

Daarvoor is ‘n driepoot maar die antwoord. Ja, as jy ‘n stewige basis kan kry om jou kamera op te laat lê, is dit ook goed, maar moet dan nie met die knoppiedrukslag die beweging veroorsaak nie.
‘n Stewige driepoot is goud werd vir landskappe. Dit help jou ook rustiger kyk na komposisie.
Drie w’s wat meesal wonderlike ekstra woema aan jou foto’s kan gee, is wolke, water en weerkaatsings in water. As jy dit kan insluit, maak dit die meeste landskappe soveel interessanter. En ek glo die see en riviere kan ook onder landskap resorteer.

Die algemene gebruik is om landskappe met ‘n wyehoeklens te neem. Ja, want dan sien jy meer van die landskap, maar wat nou as jy nie die beste lens of ‘n duur professionele kamera met mega-megapieksels het nie? Wel, zoom dan ‘n bietjie in. Draai selfs jou kamera regop en neem ‘n paar foto’s amper soos ‘n legkaart langs mekaar en heg hul dan in sagteware vir ‘n panorama. Daar is selfs goeie gratis sagteware wat dit doen. Jy het dan net soveel meer pieksels om mee te werk. Maar weer is ‘n driepoot hier ideaal om die belyning te vergemaklik.

Maar wat van ‘n sterker (telefoto)-lens? Niks daarmee verkeerd om kragtige minilandskappe uit ‘n groter toneel te haal met jou zoomlens nie. Maar onthou dan is die effek van “camera shake” waar die sluiterspoed te stadig is, net soveel groter en moet jy ekstra seker maak en eintlik nie uit die hand uit skiet nie. Voorts moet jy ook net onthou dat hoe sterker jy zoom, hoe platter raak jou foto – dit druk effektief die landskap platter. Nie noodwendig ‘n probleem nie. Hou dit net in gedagte.

Moet nooit teen die son skiet nie. Sê wie, goeie middag. Dit is onsin. Onthou net dat jou oog kompenseer makliker vir die lig, terwyl jy dit op jou kamera self moet stel. Silhoeëtte kan bitter goed werk veral met sogenaamde ‘skylines’. Om met die son op jou rug foto’s te neem, is amper soos om jou sussie te soen. Dit kan baie oninspirerend wees. Puriste praat van “flat”. Dwars met die son, gee meesal meer kontras en skaduwees in die landskap om dit baie meer interessant te maak.
Jy kry in die oggend en laat middag ook lekker lang skaduwees wat jou foto outomaties sterker – kragtiger – maak.

As jou lig laag is en jou sluiterspoed te stadig, gebruik maar jou ISO, maar net soos nodig. Kry dan só ‘n vinnig genoeg sluiterspoed, maar onthou hoë ISO gee maar grein en jy wil dit nie altyd hê nie.
Maar soms werk dit wel goed saam as jy na Swart en Wit omskakel. Want wie het gesê landskappe moet altyd volkleur wees?
Lyne, kontoere en ‘n sterk fokuspunt/onderwerp kan ‘n landskap laat uitstaan. Hulle praat ook van ‘n voorgrond, middelgrond en agtergrond vir ‘n goeie landskap.

Moet ook nie net plat foto’s neem nie. Eksperimenteer met regop landskappe of ‘n vierkantige opsie.
Panoramas kan ook baie mooi wees, maar dit werk meesal nie vir klubdoeleindes as dit te plat is nie. Want dit verloor impak.


So al wat nou oorbly is om uit te gaan en skappe te gaan skep.

Tot ‘n volgende keer.
Vingers op die knoppies.

Op jou eie tyd, op jou eie teiken: Vuur!!!


J Berto V

“The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes, but in having new eyes.” ~ Marcel Proust

Leave a Reply