Lang beligting – Long Exposure

Ons Praat Foto’s

“To me photography functions as a fossilization of time.” – Hiroshi Sugimoto

Johan Viljoen

Hoe langer jy blootgestel word aan ‘n fotografie-omgewing, hoe meer fotografie-inligting sal daar op jou inligtingsensitiewe sensors ingebrand word.
As die omgewing egter teen ‘n fraks van ‘n sekonde vir jou geflits word, is die kans goed dat dit jou nie só sal beïndruk nie.
Wel, ‘n oomblik in tyd gevries deur ‘n fotobeeld kan in fotografieterme inderdaad enorme impak hê, maar as jy die kamera se sensor/film langer blootstel, kan jy beweging vasvang en eintlik doen wat die oog nie kan doen nie.

‘n Lang blootstelling/”Long exposure” (waar die gordyn van jou kamera langer oop bly) gee die geleentheid om juis kreatief met jou kamera en ‘n toneel om te gaan.
Al is enige sigbare beweging op jou foto te danke/te wyte aan ‘n blootstelling wat só lank is dat dit nie als vries nie, is daar mos altyd doelbewuste kreatiewe beweging teenoor onbedoelde beweging en dan ongewenste beweging. Dus ‘n sluiterspoed waarteen jy nie ‘n skerp foto uit die hand sal kan neem nie.
Vir die doel van hierdie skrywe en die maand se tema sal ons werk op blootstellings van 1 sekonde en langer soos die voorsitter, Peter Hardcastle, op die laaste vergadering aangedui het.

‘n Aand in Bokomoweg in Malmesbury tydens beurtkrag

Vir konvensionele lang blootstellings is ‘n driepoot en gedempte lig noodsaaklik. Dit is juis so omdat dit dikwels baie goed werk as daar wel ‘n element in jou foto is wat staties en skerp in fokus is met ander dele waar beweging vasgevang/uitgebeeld is.
Só byvoorbeeld met ‘n rots in die see wat staties is en die see/branders wat melkerig ‘n tipe atmosfeer help skep.
Pasop maar vir gladde rotse by die see. Vir die glyslag. En ook vir jou driepoot, as dié nie rubber onder die pote het nie. Dan beweeg die driepoot in elk geval.
Vir langer blootstelling, stel jou ISO laer of op die laagste. Jy kan ook jou lensopening kleiner maak, maar onthou maar dat geen lens waarskynlik op sy grootste en kleinste lensopeninge die beste foto’s gee nie.
Baie fotograwe verkies om hierdie tipe foto’s met hul wyehoek-lense te skiet, omdat dit meer van die beweging in die foto inbring. Maar natuurlik laat jy dan ook meer lig in.

As jy met ‘n selfoon daardie verste pilaartjies wil gaan belig, maak tog seker die selfoon wys nie na die kamera toe terwyl jy loop nie…

As jou lig (laatmiddag of in die oggend) nog te veel is om ‘n stadig genoeg blootstelling te kry, kan jy ‘n verdonkerder-filter (ND) of varieerbare verdonkerder-filter (ND) gebruik. Dit laat tot 10 “stoppe” minder lig deur en gee jou net ‘n langer periode om lang beligtingfoto’s te neem. Onthou selfs ‘n polariseringsfilter (CPL in vir digitale kameras) filtreer van die lig en weerkaatsings uit.
Die see en ander lopende water soos riviere en watervalle is baie gewilde onderwerpe vir lang blootstelling-fotografie. Moet ook nie vergeet van wolke wat beweeg nie. Ook sterrefotografie maak van lang beligtings gebruik. Of wat van enige verligte wiel wat tol.

Hierdie foto kwalifiseer eintlik nie vir “long exposure”, want die sluiterspoed was te vinnig 1/6 sekonde

Natuurlik is daar ander moontlikhede ook. Soos dorpstonele in die skemer of donker met bewegende voertuie se ligte (veral die rooi agterligte) wat baie mooi kan wees op jou foto’s. As jy nog ‘n gedeelte van die blou skemerlig ook vasvang eerder as die pikdonker nag, dra dit by tot die eindproduk.
Weer. ‘n Driepoot, maar wees gewaarsku. Jy kan met die geringste beweging daardie driepoot ook laat beweeg as jy die knoppie druk. Hiervoor werk ‘n afstandbeheer baie goed en deesdae ook ‘n toep op jou kamera as die kamera ingeboude WiFi het. Jy kan ook die tyd-opsie (“timer”) gebruik om te verhoed dat jy die driepoot beweeg. Dit is met laasgenoemde egter net moeiliker om bewegende voertuie se posisie en die ligstrepe op jou foto te voorspel.

Maar natuurlik hoef daar nie beweging te wees nie. Al is dit so half die norm in hierdie tipe fotografie. Soms is daar in die aand net so min lig wat van jou onderwerp terugkaats, dat jy verplig is om dit met ‘n lang blootstelling af te neem. Of dalk wil jy lig inverf met ‘n flits of selfoon terwyl jou kamera oop is.
As jy onbelig vinnig voor jou kamera beweeg in die aand, sal jou beeld nie op die foto wys nie, terwyl ‘n lig in jou hand wel sal. Jy kan bv. die buitelyne van jou onderwerp – ‘n ou motorwrak of gebou – so aksentueer.

Om ‘n blootstelling van 2,5 sekondes met die son te kry, moes ek swaar op die ND-filter steun om die toneel te verdonker… En ek moes ook maar die lug redigeer om sogenaamde “banding” uit te kry.

Die opsies vir kreatiwiteit is legio. Onthou net hoe verder die lig van jou kamera is (ook ‘n voertuig se ligte), hoe minder helder en oordonderend is dit op jou foto.
Beplan jou foto. Wees kreatief en eksperimenteer.
Maar lang beligting is nie deurgetrap as jy nie tog na doelbewuste kamerabeweging (ICM) ook kyk nie. Sonder ‘n driepoot kan jy die wonderlikste kunswerke skep met ‘n bewegende kamera wat lank oop is.
Onthou net dat die geringste liggie in ‘n toneel nogal amper steurend, opsigtelike strepe kan maak, veral as jy eerder atmosfeer-kuns wil skep.
Natuurlik kan jy dit na die tyd uitredigeer, maar dit is ekstra werk.

Die wonder van ICM-fotografie is juis dat daar eintlik meesal ‘n verrassingselement is al het jy jou bewegings en tegnieke hoe goed beplan en uitgevoer. Ook is dié werke, anders as die meeste ander statiese foto’s, almal verskillend. Jy kan dit ook nooit perfek herhaal nie.

En nou, met oom André en die Eskompades, moet jy nie uit die oog verloor dat jy sommer binnenshuis ook met iets soos kerslig kan eksperimenteer of ‘n selfoon.
Beweging. Beweeg die onderwerp of beweeg die kamera. Jy hoef nie altyd ver te gaan nie.
Hou net daardie vingers op die knoppies en hou die kameras se gordyne ‘n bietjie langer oop – 1 sekonde of langer.

Tot ‘n volgende fotogesels.
Lekker skiet.

Fotogroete
J Berto V

“Art resides even in things with no artistic intentions.” – Hiroshi Sugimoto

Leave a Reply