Ons Praat Foto’s
My still-life painting has more to do with light and shadow than with the objects themselves. – William C. Wright (Dit is waarskynlik net so waar van dié fotografie.)
Wanneer jy van “Table Top”/stillewe of produkfotografie praat, is refleksie amper die eerste rooi lig wat opkom.
Blink, ja blink.
Kom ons gee een tree terug.
As jou oog kyk, sien hy/sy/dit nie ‘n onderwerp of ‘n toneel nie, maar veel eerder die lig wat van daardie onderwerp of toneel terugkaats.
As die onderwerp nie lig terugkaats nie, is dit straks nie eers ‘n onderwerp nie. Of daar bestaan waarskynlik nie so iets nie.
In die modewêreld praat hulle van “reflective” of “non-reflective make-up”. Wel, laasgenoemde is verkeerd gedoop en moet eerder “less-reflective” heet.
Weerkaatsing, terugkaatsing of refleksie van lig is die grondslag van fotografie.
Dit is juis die manipulering en/of beheer hiervan wat ‘n foto laat werk of platval. Lig en weerkaatsing is jou vriend, maar kan ook jou vyand raak in tafelblad/produkfotografie.
Daardie ligkolle wat altyd eerste die oog vang en jou aandag steel en van die onderwerp kan wegtrek.
Natuurlik kry jy sogenaamde “matt” oppervlakke. Dit is eintlik maar waar die oppervlak bestaan uit kleiner oppervlakke wat in verskillende rigtings wys en die lig ook so reflekteer eerder as om als saam in een rigting te weerkaats.
Ligbeheer dan een van die belangrikste aspekte van tafelblad/produkfotografie. Versagters en kantbeligting is waardevolle hulpmiddele. Laasgenoemde ook om ‘n driedimensionele beeld te help skep. ‘n Flits reg van voor is meesal ‘n groot probleem en kan ook baie harde skaduwees gee, terwyl jy met ‘n versagter (“difuser”) die lig kan versprei en versag. En onthou, ‘n versagter of ligverspreider kom in baie vorme… van ‘n doodgewone A4-papier tot ‘n sakdoek of ‘n groot kommersiële sambreel. Ek het al baie keer ‘n sakdoek voor my kamera se ingeboude flitslig gehou om die hardheid van die lig te versag. Natuurlik werk die bons van lig teen die dak of teen ‘n kantmuur of enige ander oppervlak ook baie goed.
Tafeblad- of produkfotografie. So wat neem jy af?
Wel, enigiets. Klein en groot. Onthou die MSC Opera-passasierskip is ook ‘n produk… Straks die die agtergrond daarvan moeiliker beheerbaar, of is dit? Miskien is dit juis ‘n mooi agtergrond op ‘n skinkbord…
Maar kom ons kyk maar na die tafel.
Seker enigiets wat stil staan of lê… ‘n bak vrugte, blom of blomme, eetgerei uit die trousseau-kis, glasbak, wynglase, wynbottel (nie so maklik om af te neem nie), enige ornament of klein stukkie juweliersware, boeke, gereedskap, of ‘n koekie sunlight of ‘n bottel marmite. ‘n Produk van ver of van baie naby. Straks kan produk ook ‘n aanbieding of ervaring wees. ‘n Pakkie dus.
Waar begin jy?
Met jou gekose produk/stillewe-onderwerp natuurlik.
Maar dan beslis met ‘n driepoot of iets waarop jou kamera doodstil kan rus. As jy regtig nie ‘n driepoot het nie en jy kan jou kamera op iets laat lê, is die vertraagde tydnemer (“timer”) handig om seker te maak die kamera beweeg nie wanneer jy die foto neem nie.
En moet nie jou selfoon weggooi nie. Dit is die gulde geleentheid om ook met jou selfoon te skiet vir daardie selfoonkategorie by die maandbyeenkomste. Met die wye hoek moet jy natuurlik net lekker naby neem.
En op daardie noot van lens. Neem gerus ‘n paar makro-foto’s ook. Met jou makrolens, die makrofunksie op jou “bridge”-kamera, jou selfoon se makromodus, “extension tubes” of jou “close-up”-filters.
Natuurlik is lig altyd ‘n probleem in makrofotografie omdat jy so naby gaan en dan ‘n klomp van die omgewingslig op jou onderwerp afkeer.
‘n Groot venster met natuurlike lig, ja soms ook oggend- of namiddagson wat inskyn kan ‘n groot gratis hulpmiddel wees in dié tipe fotografie.
‘n Flitslig of ander ligbronne soos ‘n selfoonlig, kerse (Eskom, ons het jou nie hiervoor nodig nie) of ‘n string LED-liggies kan ook wondere verrig en jou help om baie kreatief te raak. Eksperimenteer met die lig vanuit ‘n klomp verskillende hoeke. Agter/bo/onder of skuins langs die onderwerp. Belig ‘n spesifieke deel waar jy klem wil lê, of skuduwees wil verminder.
Gebruik wit reflekterende papier of doek of selfs foelie om byvoorbeeld lig van die teenoorgestelde rigting van ‘n venster terug te kaats en die skaduwees te versag.
Agtergrond is belangrik. Besluit of ‘n wit, swart of meer neutrale kleur soos grys beter sal werk.
Dikwels kan ‘n laken of kombers of gordyn of selfs ‘n fluweel kledingstuk die perfekte agtergrond skep.
Natuurlik kan jy kreatief raak en op jou TV of groot rekaarskerm ‘n ander agtergrond vertoon. Moet ook nie ‘n rowwe of verweerde houtbord of tafelblad buite rekening laat nie.
Gebruik ander onderwerpe as “ekstras” in jou foto om die storie te vertel.
Spieëls word met groot vrug in hierdie genre aangewend.
Diepte van veld is natuurlik baie belangrik. Soms wil jy die hele produk/onderwerp in fokus hê. Dan is ‘n kleiner f-nommer beter (en raak die sluiterspoed stadiger om net weer die noodsaaklikheid van die driepoot te bevestig).
Maar soms wil jy juis slegs ‘n kleiner gedeelte in fokus hê. Groter f-nommer dan.
Pasop ook maar om als net van een hoek te neem. Van bo af of skuins van bo, is die mees algemene hoek. Maar kyk gerus na ‘n sy-hoek. Dalk meer in die lig vir meer drama. Of reg van voor. Dit kan die wêreld se verskil maak.
Moenie van water vergeet as jy blomme of vrugte afneem nie. ‘n Paar druppels hier en daar gee jou foto net daardie tikkie ekstra.
Beligting is smaak. ‘n Donkerder meer dramatiese of ‘n ligter en vroliker foto. Eksperimenteer. ‘n Glas of bottel met min lig wat net die lyne aksentueer, kan ‘n baie suksesvolle werk raak.
Laastens. Eksperimenteer en geniet dit. Neem baie foto’s na gelang van JOU smaak. Jy hoor dikwels ‘n beoordelaar sê dit was ‘n beheerde omgewing en jy kon die onderwerp skuif soos jy dit wil hê en beligting beheer en daarom is hulle strenger. Wel, laat ek my mening daaroor maar vir myself hou.
Neem vir jouself en moet asseblief nie jou fotografie deur ander se menings laat rig nie. Dit is een ding om te weet en te leer wat visueel dalk beter werk, maar behou jou kunstenaarsidentiteit.
Neem baie foto’s en mik vir ‘n foto wat jy op jou muur wil hang.
En doen dit dan.
Druk jou foto en hang dit op.
Jóú kuns.
Tot ‘n volgende keer. Lekker skiet.
J Berto V
“Learn the rules like a pro, so you can break them like an artist” ~ Pablo Picasso