Dramatic Monochrome

Ons Praat Foto’s

“When you photograph people in color, you photograph their clothes. But when you photograph people in black and white, you photograph their souls!”
-Ted Grant

Johan Viljoen

Dit het alles by Swart en Wit begin.

Daar was nie eintlik ‘n keuse nie. Kleurfotografie het eers later gekom. En nou, nou wil ons steeds in baie gevalle die kleur weglaat of uithaal.
Dominic Rouse word aangehaal: “Color is everything, black and white is more.”

Monokrome fotografie is nie net Swart en Wit nie. Dit is soos die basis van die woord aandui. Mono (een) en kroom (kleur).
Monokroom in fotografie is dus skakerings van een kleur. Dit kan weliswaar ‘n debat raak, omdat kleure opgemaak word uit ander kleure, maar daar word aanvaar dat (net soos Swart en Wit – wat eintlik swart TOT wit behoort te wees – eintlik ‘n spektrum van grys is) monochroom ‘n spektrum skakerings van een kleur kan wees.

Jy het vandag ‘n legio opsies. Nie soos in die film-era toe jy vooraf jou film sorgvuldig moes kies (vervaardiger en ASA/ISO met kenmerkende eienskappe en hoveelheid grein) en ‘n bietjie speelruimte in die donkerkamer gehad het nie.

Daar was wel ook kleurfilters om sekere kleure dan donkerder en ligter te maak vir jou swart en wit foto’s.
Deesdae kan jy als in redigering manipuleer. Als? Wel, baie naby aan als.
Daar is ‘n magdom opsies oor hoe jy van kleur af by monochroom kan uitkom.
Dit sou ‘n boek verg om als te bespreek. Maar die meeste is uiteraard met redigering in verskillende sagteware van jou keuse.

Ja, jy kan meesal ook jou kamera so stel. En as jy net jpegs neem, sal hy/sy vir jou swart en wit foto’s uitspoeg. Met Raw, behou dit natuurlik steeds al die kleurinligting.
Een van die voordele daarvan om jou kamera op Swart en Wit te stel, is dat jy ná elke foto (of met “live view” en “Mirrorless” nog voor jy neem) die swart en wit gerekenariseerde beeld kan sien.

In fotografiekringe as daar van monochroom gepraat word, sê hulle dikwels jy moet leer om in Swart en Wit te sien. Wel, hierdie is ‘n manier om jou te help. Dan wys die kamera vir jou.
Nie soos in daardie film-era nie. Of jy in Swart en Wit kon sien of nie, jou foto’s was Swart en Wit.

Al het almal eintlik lankal begin kleurfoto’s neem (wie onthou die Kodak Instamatic en daardie plat 110 kameratjies), was koerantfoto’s tot met die koms van digitaal eintlik maar nog grotendeels Swart en wWit.

Die uwe se eerste koerantfoto in die laat 80’s was ‘n swemfoto met ‘n goud van kleur Ricoh “mik en druk” geneem. Dit het die gogga waarskynlik laat byt. Sportfotografie in die film-era was totaal iets anders. Jy moes haarfyn beplan en doodseker maak. Daar was nie tweede en derde kanse nie. Dit was net te duur. Veral as jy vinniger film (hoër ISO) vir aksie of lae lig moes gebruik met die gepaardgaande grein ook natuurlik…
Moenie ‘n fout maak nie. Grein kan ‘n positiewe bydrae tot foto’s maak vir ‘n bepaalde karakter of gevoel. Deesdae met tegnologie raak grein al minder en ISO al hoër.

Maar terug by Swart en Wit of monokroom.
Ja, jy kan enige foto met redigering na Swart en Wit omskakel, maar nie almal is ewe suksesvol nie. Daar is baie foto’s wat juis op hul kleure steun vir visuele impak. Maar daardie hulpmiddel verval met swart en wit. Maar dit hou ook groot voordeel in.
Soos Grant sê: Dit neem jou eintlik na die karakter van die onderwerp/beeld toe sonder dat die aandag weggetrek word.
Kontras met witte en swarte (of die baie ligte en donker skakerings) help om die foto of die onderwerpe te laat uitstaan. Lig raak nog belangriker. Daarom het ‘n foto waar die ligintensiteit grotendeels op een vlak is, meesal nie soveel trefkrag in Swart en Wit nie. Natuurlik is daar uitsonderings.

En dramatiese monochroom? Wel, dramaties kan persepsie of interpretasie wees, maar baie kontras (verskil tussen die ligte en donkerder gedeeltes) kan tot drama bydra.
Wanneer jy ‘n fotogeleentheid vir Swart en Wit sien, moet jy eintlik voorsien hoe dit ontkleur sal lyk. Dit is immers onrealisties. Die donker en lig. Die kontras. Daar waar al die (hoeveel ook al) shades of gray sal wees. Wit vang jou oog. Maar so ook baie donker. Gebruik dit. En as jy amper heeltemal wit en amper heeltemal swart op jou spektrum kan insluit, kan dit beslis ekstra impak aan ‘n foto gee. In die meeste gevalle is dit egter beter om nie pikswart en spierwit – albei sonder enige definisie – in te sluit nie.
Só sal jou monokroom-foto’s beslis sterker wees.

In redigering kan jy jou verskillende kleure wel individueel ligter of donkerder maak. Soortgelyk aan die kleurfilters vir Swart en Wit in die filmera. Gebruik dit om klem te plaas en seker te maak jou fokus val op die regte plek. Maar hoe beter jou oorspronklike foto. Hoe beter jou eindproduk.

Kom ons gesels gou oor kleur tot Swart en Wit. Elke kleur in ‘n foto bestaan eintlik uit drie veranderlikes – Dit is
1) die spesifieke kleur, bv. rooi, geel of blou of enige kombinasiekleur. In fotografie praat hulle van “Hue”.
2) die kleurintensiteit. Bv. Hoe rooi? Baie rooi of min rooi. In fotografie praat hulle van “Saturation”.
3) die helderheidswaarde van die kleur – lig of donker. Moet dit nie met intensiteit verwar nie. Hulle noem dit “Luminosity” of ook “Brightness“.
En dit is waar jy jou oë moet oefen om te besef dat daar “oëverblindery” is. Eintlik is dit maar hoe ons ‘n kleur sien.
As jy rooi, blou en geel met dieselfde helderheidswaarde langs mekaar sien, lyk die geel waarskynlik helderder, as die rooi en dan die blou.
Maar in terme van helderheid is hulle presies ewe donker/lig.

En in Swart en Wit gaan die kleur en die intensiteit daarvan geen verskil maak nie. Dit is slegs die helderheid – donker of lig.
Gebruik lig en donker om drama te skep. Of is Swart en Wit eintlik al klaar dramaties? Wie weet? Dit is elkeen se interpretasie.

Gaan uit en kyk, sien, en maak foto’s.

Gaan kyk, sien en maak soveel moontlik foto’s.

Só oefen jy jou oog vir die eenkleurfoto’s in ‘n wêreld waar ons van Swart en Wit wil wegkom… maar eintlik al meer Swart en Wit wil raaksien?

Fotogroete
J Berto V

“One very important difference between color and monochromatic photography is this: in black and white you suggest; in color you state. Much can be implied by suggestion, but statement demands certainty… absolute certainty.” – Paul Outerbridge

Leave a Reply