Ons Praat Foto’s: Winterfotografie
“The landscape has moods, and I love the mood of the winter landscape.” – Keith Dotson
Daar is tye van die jaar wat die son hard en genadeloos bak, ook in ons Swartland en Weskus. Dan kan dagfoto’s ‘n uitdaging wees met die harde lig.
Winter, daarenteen, bied weer ander uitdagings met reën en koue en grys dae, maar dit hou ‘n bekoring van sy eie in.
En vir diegene wat dit nie buite wil waag nie, is daar meer as genoeg binnenshuise opsies om met jou kamera te werk en te eksperimenteer.
Maar kom ons gaan maar eers na buite.
Die winter kan baie dramatiese wolke gee en daarvoor, asook vir weerkaatsende wateroppervlakke, kan ‘n polariseringsfilter ‘n handige hulpmiddel wees vir kreatiwiteit. Maar natuurlik is weerkaatsings ook soms kardinale boustene vir foto’s.
Soggens kan mistig wees en ons het al hierdie winter ook ryp gehad.
As jy bevoorreg is om in sneeu te kan foto’s neem, is dit dikwels wys om ‘n stop of twee oor te belig anders kan die sneeu maklik grys en modderig vertoon. Maar kyk na jou histogram en waak teen te veel oorbeligting, want dit kan weer tot uitgewaste en verlore inligting aanleiding gee.
Jou kamera se beligtingskompensasiestelling – onder-, regte – en oorbeligting – kan hier handig wees.
‘n Mistige foto skep ook altyd ‘n gemoedstemming en ‘n mate van misterie. As daar baie vog in die lug is, vorm misbanke in die laerliggende gebiede. Hou gerus die weervoorspelling dop vir sulke geleenthede. Ook met mis kan jy – na gelang van smaak – maar met verskillende beligtings eksperimenteer. Soms werk ‘n baie donker mistige foto goed vir ‘n onheilspellende gevoel, maar ook baie ligte foto’s kan goed werk. Eksperimenteer deur iets met ‘n prominente kleur iewers op jou foto in te sluit.
Natuurlik is die dag in die winter korter. Al is die lig nie so intens nie, kan jy steeds wonderlike skaduwees kry vir grafiese effek, kontras en tekstuur. Dit kan lyne skep wat die kyker se oog trek. Ook kan die kontras tussen lig en donker juis minder intens wees. Maar weer kan jy met beligting eksperimenteer vir verskillende effekte.
Vir warm kleure is die lig steeds op sy beste rondom sonsopkoms en sonsondergang.
Wanneer jy na die son se kant toe skiet en daar is ‘n ongemaklike of ongewenste kaatsing op jou lens, gebruik enige skerm, selfs jou hand soms, net buite die lens se sigveld om die direkte lig op die lens af te keer.
Moet ook nie bang wees vir monochroom nie. Dit kan juis in die winter ekstra kontras gee en help om die gemoedstemming te verander as jy jou foto van die kleur stroop. Sommige kameras het ‘n swart-en-wit-verstelling, maar die meeste fotograwe verkies om die omskakeling op hul rekenaar te doen. Nie net omdat hulle dan steeds die kleur het vir later gebruik nie, maar ook omdat daar soveel meer beheer is. As jy in RAW neem, sal jou kamera waarskynlik steeds die kleurinligting behou al neem jy in die mono-modus.
Met swart-en-wit kan jy gerus ook met hoër ISO eksperimenteer as jy ‘n bietjie grein op jou foto wil skep.
Hou jou kameratoerusting droog deur ‘n absorberende handdoek te gebruik en reënbedekking as jy in die reën foto’s neem. Moet nie ‘n fout maak nie, daar kan juis wonderlike beelde voor jou lens afspeel as die water val.
Wees ook bedag dat as jy jou kamera in erge koue uithaal, veral as dit warm is in jou kar, kan daar kondensasie/wasem in jou kamera/lens wees en dan sal jy ‘n tydjie moet wag voor dit weer verdwyn. Dit is egter nie die ideaal nie en sommige kameras kan sensitief wees daarvoor en dit kan selfs in uiterste omstandighede waterskade aan die elektronika veroorsaak. (Maar dit gebeur darem nie gereeld nie.)
Dra ook sommer ‘n goedkoop swart plastieksak saam vir die keer as jy op jou knieë wil gaan of selfs plat lê vir daardie besondere lae hoek.
Op daardie noot is dit goed om seker te maak jy het genoeg klere aan. As jy eers daar buite is, kan die weer vinnig verander en skielik koud raak. As jy onvoorbereid is, kan dit die fotosessie onnodig vinnig kort knip.
‘n Warm drankie en eetgoed help ook om warm te bly.
Vir dieselfde rede is dit goed om ook seker te maak dat jy genoeg gelaaide batterye saamneem. In die koue is batterye ook dikwels luier en vinniger sonder krag as in die warmer omstandighede.
Omdat winter juis minder harde lig het, lei dit meesal tot ‘n stadiger sluiterspoed en daarom is ‘n stewige driepoot nog belangriker as in helder lig.
Wees maar net versigtig as jy met jou driepoot in die water of nat of natuurlik ook naby die seewater foto’s neem. Maak dit maar skoon en droog, want sommige van die ouer driepote kan roes optel.
Vir jouself kan waterskoene ook handig wees om op natter plekke te kan loop.
Wees ook bedag op die omgewing waar jy foto’s neem, veral as jy alleen is. Dit is nie meer oral veilig om alleen te wees nie, veral nie op afgeleë plekke in die skemer nie. Dit is maar beter om sulke plekke saam met ander te besoek.
Winter is vir baie mense tuisblytyd. Maar dit verhoed jou nie om met binneprojekte te eksperimenteer nie.
Kerse en kaggel skep onmiddellik ‘n bepaalde atmosfeer in foto’s. Heerlike winterkos en warm sop of koffie met stoom, kan perfekte onderwerpe wees vir winterfotografie. As jy die stoom wil afneem, is ‘n swart agtergrond en ‘n sterk kantlig op die stoom ‘n goeie begin.
Natuurlike sagte winterson wat by ‘n venster inskyn of baie donker atmosfeerfoto’s… die opsies is legio.
Met die binnefotografie kan jy jou kamera se witbalans-verstellings uittoets as daar meer as een verstelling is. Daar is gewoonlik ‘n AWB (outomatiese witbalans), maar ook dié vir bewolkte weer, tungsten lig, fluoresserend lig, sonlig en ander. Dit kan interessante kleureffekte aan jou foto’s gee.
Nou ja, hoe sê hulle. Die beeldende kunstenaar begin met ‘n leë doek, maar ‘n fotograaf se doek is vanuit die staanspoor vol en dié moet georden en selfs leër gemaak word wanneer nodig. Dus: Daar is ordenwerk om doen.
Tot ‘n volgende keer
Bly veilig, bly warm, bly gesond en
geniet die winterfoto’s
J Berto V
“I prefer winter light because it’s softer. Winter light is less direct and winter skies are more likely to be cloudy – even gloomy – which opens shadows and eases highlights.” – Keith Dotson