Astrofotografie

Ons Praat Foto’s: Sterrefotografie

Johan Viljoen

“A good photograph is knowing where to stand.” – Ansel Adams

© Johan Dempers

Fotografie is lig. Eintlik die interpretasie van, filter en verf met lig. Die gebruik van lig wat jy kan sien, maar soms ook lig wat jy nie kan sien nie.

© Johan Dempers

Jou kamera kan lig sien wat jy nie kan sien nie. Of is dit? Wel, dit kan ‘n debat raak, maar vir nou wil ons praat van donker en lig. Wanneer jy klein spikkeltjies van die heelal – planete en sterre – wil vaslê vir sterrefotografie of astrofotografie.
Soos met baie aspekte van fotografie word astro ook met ‘n B gespel.
Daar is talle boustene, maar die grootste is straks Beplanning.
Op Wellington woon ‘n avonturier, skrywer en deurwinterde fotograaf Johan Dempers. Hy het al verskeie avonture en oorloë beleef, uitdagende wêreldreise aangepak en ook kort naweektoere na die Karoo om sterre af te neem.
Hy wou “ook nog altyd die Aurora Borealis of Noorderligte sien”.
‘n Paar jaar gelede het Dempers ‘n toergroep na die arktiese sirkel gelei om dit te gaan afneem.
Ek het met hom gaan gesels oor sterrefotografie.

Daar in Rusland in snerpende koue vertel Dempers, kon hy hom verwonder aan die dansende ligte. “Dit was ‘n absolute hoogtepunt vir my.”
‘n Mens moet straks net ‘n bietjie perspektief kry en die wonder van sterrefotografie bedink.
Ja, dit is uiteraard so dat jy eintlik in alle fotografie NOOIT die teenswoordige sal fotografeer nie. Die lig het immers tyd geneem (al is dit ‘n bitter kort tydjie), maar dit moes eers reis tot op jou sensor (film as jy straks op film skiet).
Maar met sterrefotografie kyk ‘n mens, sê Dempers, “behoorlik terug in tyd wanneer jy na die sterrehemel kyk”. Die naaste ster aan ons (die son uitgesluit) is Proxima Centauri en dit is (volgens een bron) 4,3 ligjare of ongeveer 40,681,141,032,097 km weg van ons met ander stelsels selfs derduisende ligjare weg.
Dempers sê dit is met vandag se kameras eintlik relatief maklik om sterrefotografie te doen.
Daar is soveel inligting en hulpmiddele tot ons beskikking.
“Beplanning is kardinaal.

“Ek het die Ruslandtoer beplan om hierdie spesifieke foto.
“Ek wou nie vreeslik opgewonde daar aankom en dan is dit volmaan die betrokke aand nie.”
Al is die fotografie van die maan, son en ander planete uiteraard deel van astrofotografie, kan ‘n volmaan met te veel lig suksesvolle foto’s van die sterre en die melkweg verhoed en ruïneer.
En daar is natuurlik ook ander faktore wat buite jou beheer is.
“Ons het vir drie nagte probeer om hierdie foto te neem. Op die laaste oggend (in die nanag om en by 2 uur) het dit toe gelukkig oopgetrek.
“Jy kom op ‘n plek en dit is perfek en jy stel op en dan skielik kom die wolke oor en dit begin sneeu en is alles daarmee heen.
“Dit was kru weer. Hierdie foto is geneem in minus 22°C. So jy moet net sorg dat jy genoeg batterye het, want hulle gaan nie lank hou nie.”
Jy neem ook maar goed saam om jou spaarbatterye te isoleer teen die koue.
‘n Goeie stewige driepoot is ononderhandelbaar. ‘n Afstandbeheerder om te verhoed dat die kamera beweeg as jy die foto neem, is ook belangrik, maar daar is maniere om om dit te kom. Een manier is om jou kamera se tydkontrole (“timer”) te gebruik.
“Hierdie foto is van drie foto’s van 7 sekondes elk wat gelas is in Lightroom om die panorama te kry.
“As jy jou driepoot stewiger wil kry, kan jy iets swaar aan dit hang.
“Ek wil nie te veel geraas (“noise”) hê nie. Dit is belangrik. So my ISO gaan nie te hoog wees nie.”
Hy vertel dat hy geloop het om ‘n interessante voorgrond-anker te kry “en die agterste lig agter die anker was”.

Oor lensopening sê Dempers “as jy ‘n lens met ‘n wye hoek gebruik, is velddiepte nie so ‘n groot probleem nie. Dan kan jy met ‘n groter lensopening wegkom.”
Daar is riglyne waarvolgens jy kan uitwerk oor hoe lank jou lens oop kan bly voor die sterre strepe maak – hoe wyer jou lens, hoe langer gaan dit neem voor dit beweging wys.
“Maar as jy die strepies wil hê, wil jy normaalweg juis nie kort strepies hê nie maar eerder langer strepies. “Dit is ook nie altyd wys om jou lens te lank oop te hou nie, want dit kan te veel lig inlaat. Dan is dit slimmer om baie foto’s te neem van ‘n klompie sekondes met dieselfde beligting en hulle dan te las. Jou beligting bly presies dieselfde, maar jy kry die strepe.”
Op ‘n 50mm lens of die ekwiwalent daarvan (ongeveer 30mm op ‘n “crop censor”) begin die sterre al strepe maak as jou sluiter 14 sekondes of langer oop is.
Pasop dan ook net weer vir te lang tussenposes tussen foto’s, want dan is daar lang onderbrekings in die strepe.


‘n Voorbeeld daarvan is hierdie “star trail”-foto wat by Wellington geneem is.
“Dit is ‘n klomp foto’s en daar is onderbreking. Die kleure kon jy ook nie met die blote oog sien nie, maar met ‘n lang beligting tel die kamera lig op en bring dikwels ook kleure uit.”

Nog een van Dempers se sterrefoto’s is ‘n klompie jare gelede op sy tweede avontuur na die Amazone in Suid-Amerika geneem. Dit was weer in die ander uiterste – baie warm en tropiese – omstandighede.
Dit was laat en daar was baie muskiete.
“Ek wou die foto kry, maar omtrent 98 muskietbyte later kon ek ook nie vinnig genoeg terug by die tent kom nie.”
Dempers vertel van handige selfoontoeps (Apps) wat jy as hulpmiddele in beplanning kan gebruik.
Sommige is gratis en ander met meer gevorderde funksies het dikwels ‘n fooi.
Daarmee kan jy fyn beplanning doen oor die melkweg en ander aspekte van jou sterrefotografie.
Onder dié toeps tel Stellarium, Skyview en Sun follower.
Dit is belangrik om te onthou dat die aanwesigheid van kunsmatige lig (ligbesoedeling) soos dié van ‘n dorp of stad met die blote oog dikwels nie so erg lyk nie, maar dit kan die sterrefoto’s verwoes.
Een van die uitdagings in sterrefotografie is die fokus.
Dempers sê:“Jy moet voor die tyd gaan fokus.

Moet nie 10-uur in die aand probeer fokus nie. Want waarop fokus jy?”
Daar is wel tegnieke om in die aand op sterre te fokus. Bv. Soek die helderste ster. Skakel dan die “live-view” -modus van jou kamera aan. Dit verander die skerm in wese in ‘n videoskerm van wat die sensor “sien”. Skakel dan oor na handmatige fokus (manual focus) en stel fokus op oneindig vir ‘n begin. Zoem digitaal so ver moontlik in en stel jou fokus op die helder ster. Die beste fokus is gewoonlik wanneer die ster op sy kleinste, skerpste en witste lyk.
Waak net daarteen om jou lens weer te draai en die fokus aan te pas. Sommige fotograwe plak die lens dan tydelik vas sodat die fokus in plek bly.
Leer ken jou kamera ook vooraf. Daar in die donker aand kan dit moeilik wees om te sien en dan uit te vind waar verstellings sit. Dit is ook nie wys om ‘n flits te gebruik wanneer medefotograwe besig is met sterrefoto’s nie.
Dempers sê onthou ook om “die beeldstabiliseerder van jou lens/kamera af te sit as jy op ‘n driepoot foto’s neem. Anders kan dit juis beweging veroorsaak.”
Wanneer jy ‘n anker in die voorgrond wil insluit, is dit raadsaam om genoeg afstand tussen jou en die anker ook te hê, om meer fokusdiepte te kry.
“Onthou fokusdiepte hardloop altyd verder terug van die fokuspunt as vorentoe.”
Jy kry ook selfoontoepassings wat diepte van veld vir spesifieke lense aandui. En dit is handig.


*Dempers vertel ook van die interessante sterrefotografie wat jy vanaf jou rekenaar via die internet kan doen. Daar is webwerwe waar jy kan inskakel en ‘n teleskoop beheer om ‘n foto daar te neem waarop jy dan die kopiereg het.
Hierdie is so ‘n foto.

Tot ‘n volgende keer

Geniet die sterre-fotografie.

J Berto V

“The two most engaging powers of a photograph are to make new things familiar and familiar things new.” – William Thackerayh

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *