Voëls

Ons Praat Foto’s: Voëlfotografie

Johan Viljoen

“In order to see birds, it is necessary to become part of the silence” – Robert Lynd

Digitaal het alles soveel makliker kom maak en digitaal het alles soveel moeiliker kom maak.

Die druk van die knoppie van enige digitale kamera het net nie naastenby soveel finansiële gevolge soos dié van film – die aankoop van die film, die ontwikkeling van die film en die afdruk van die foto’s – nie.
Dit is na alle waarskynlikheid juis hierdie koste-aspek van digitale fotografie wat dit net soveel meer toeganklik vir bv. haas elke selfoondraer gemaak het.
Daar word ook op ernstige en professionele vlak tientalle kere meer foto’s geneem.

Die gevolg is ‘n groter aanbod van uitstekende foto’s en daarom raak dit al moeiliker om ook beoordelaars te beïndruk in kompetisies.
Nie dat fotografie dáároor hoef te gaan nie, of behoort te gaan nie, maar ‘n foto wat 20 jaar gelede baie goed sou doen, kan maklik vandag as gemiddeld gesien word, omdat beoordelaars net soveel meer van die WOW-foto’s sien ‘n ‘n era waarin ons eenvoudig toegegooi word onder foto’s.


Maar waarom neem jy foto’s? Probeer jy die mooi vasvang vir jouself of om vir ander te wys? Probeer jy die huidige dokumenteer vir nageslagte? Probeer jy ‘n storie vertel binne die raam van daardie foto en iets meer van jouself ook in die proses? Of probeer jy selfs kommentaar lewer op die lewe deur jou fotografie? Of wil jy dit professioneel doen vir ‘n lewe?
Dit kan natuurlik ‘n kombinasie ook wees.

Wanneer ek oor voëlfotografie begin besin, kom daar ‘n klompie gedagtes op.
Een, ongelukkig, is daardie geykte kommentaar van: Dit is net nóg ‘n voël op ‘n stokkie.
En ja, as dit ‘n statiese sogenaamde rekordfoto is, ontbreek die ongewone element wat bedorwe kykers/beoordelaars so graag soek.
Maar neem die foto binne al die moontlike riglyne wat jy wil in ag neem en ook wil buig.
Want jy neem die foto vir jouself. ‘n Pragtige voël op ‘n tak met mooi beligting kan werklik mooi en besonders wees. Ja, enige aktiwiteit, soos voer of baklei of jag, dra mos uiteraard by tot die interessantheid van ‘n foto.

Ongelukkig is voëls in hul natuurlike habitat mos maar wild en kom jy baie moeilik naby aan hulle.
Daarvoor het jy ‘n redelike sterk telefotolens (seker 200mm of meer, afhangende van hoe naby jy kan kom) nodig.
Maar jy kan gelukkig wees en jy kan dalk ‘n mak papegaai of ‘n kraai afneem. Of ‘n budgie of ‘n kanarie of ‘n duif op jou stoep.
Daar word natuurlik dikwels in voëlfotografiekompetisies verwag dat die voëls nie in aanhouding moet wees nie en daar ook verkieslik nie menslike elemente in die foto moet wees nie. Dit is ‘n diep debat waaaroor elkeen sy of haar eie siening het. Daar was al redelike dispute daaroor ook. So byvoorbeeld is iets soos ‘n grondpad straks ook mensgemaak en wat van die ringetjie op ‘n gemerkte voël se poot? Hierdie antwoorde berus by jouself en ongelukkig ook die beoordelaar van die betrokke kompetisie. Maak dus seker van die reëls.

Ook mag foto’s in natuurfotografie meesal nie gemanipuleer word nie (dit sluit natuurlik ligverstellings en stofverwydering uit). Weer sal dit afhang van beoordelaars/kompetisiereëls.
Een plek waartoe ek my al heel dikwels gewend het vir voëlfotografie, is Intaka Island agter Canal Walk. Wat ‘n wonderlike plek in die middel van ‘n stad om natuur te ervaar en voëls af te neem,
Vir hierdie blog het ek o.a. weer ‘n bietjie daar gaan kuier. Ook sielskos vir die uwe. Al jag die meeste fotograwe daar foto’s van unieke voëls soos die klein kuifkopvisvanger, is daar ‘n groot verskeidenheid (ook minder kleurvolle) voëls en is daar ook skuilings wat jou as’t ware nader aan die voëls bring. Jy kan hulle vir ure sit en bekyk.


Wanneer jy met ‘n lang lens neem, is kamerabeweging (“camera shake”) ‘n groot risiko. Daarom moet jy seker maak jy het ‘n vinnig genoeg sluiterspoed. In die ou dae voor ingeboude beeldstabiliseerders, was die ongeskrewe reël dat jou sluiterspoed nie stadiger as 1 oor die fokusafstand moet wees nie. Dus met ‘n 300mm lens 1/300ste van ‘n sekonde of vinniger. Deesdae met digitaal is dit eintlik nog vinniger. Meer soos 1 oor twee maal die fokusafstand. Onthou net dat die meeste digitale kameras kleiner sensors het wat beteken jy moet met ‘n “crop censor DSLR” effektief jou fokusafstand met bv. 1,5 of 1,6 maal as jy nie met ‘n volraamkamera neem nie. Soos genoem help die beeldstabiliseerders wel, maar ‘n driepoot of minstens ‘n eenpoot (monopod) is steeds half ononderhandelbaar.


In ‘n skuiling of op ‘n ander statiese punt kan jy ook ‘n boontjiesak gebruik om jou kamera op te laat lê vir stabiliteit.
Voëls in die natuur is inderdaad meesal ver, maar is die ideaal wanneer jy hul van die agtergrond wil isoleer, dat jy nader aan die voël is as wat die voël van die agtergrond is. Hoe kleiner die afstand tussen jou en die onderwerp, hoe maklik om dit van ‘n verder agtergrond te isoleer met ‘n groot lensopening.
Die ou sê van “ If it is not close enough it is not good enough” is ook maar van toepassing.
As die onderwerp te klein in die foto is (al raak tegnologie en beeldkwaliteit met meer en meer megapieksels al beter) is die kwaliteitsverlies net te veel as jy dit te veel moet insny (“crop”).

Natuurlik geld dieselfde visuele riglyne soos vir ander fotografie. Lyne, teksture, vorms (ook geïmpliseerde lyne en vorms), kleur en soms ook negatiewe spasie of eenvoud kan waardevolle hulpmiddels wees. So ook kontras of sagte ligkolle/stroke waarin jou onderwerp beter belig is.
Om voëls in vlug af te neem, is ‘n uitdaging.

Met ‘n baie vinnige sluiterspoed en ‘n vinnige oog en oefening, kan jy hul in die lug vries, maar die deurvolg (panning)-tegniek word dikwels gebruik om saam met die voël te probeer beweeg as jy neem. Dit help om die agtergrond minder kompeterend ook te maak omdat dit dan nie so staties en skerp is nie. Een van die belangrikste wenke met deurvolg (panning)-fotografie is juis die deurvolg. Moenie stop wanneer jy die knoppie druk nie, volg nog ‘n bietjie verder tot die kamera die foto heeltemal klaar geneem het.
Hier is oefening en nog oefening belangrik. Jy wil probeer om die voël te volg om te verseker die onderwerp bly skerp in fokus, of ‘n gedeelte van die voël – meesal verkieslik die kop en oë.

Die natuur is ‘n wonderlike plek waar mens rustig kan raak, maar laat jouself tyd toe en geduld waneer jy voëls wil afneem. Dit vat tyd. Hulle maak nie soos jy wil hê nie. Later, met tyd, kan jy egter begin voorspel wat hulle gaan maak.


Tot ‘n volgende keer

Geniet die natuur en die voëls.

“Spend the afternoon. You can’t take it with you.” — Annie Dillard


J Berto V

“Never ever switch off your camera while in a jungle drive! The jungle can surprise you anytime!” – Alvis Lazarus

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *