Besondere prestasie by SFK

Herman Olivier ontvang sy APSSA

Johan Viljoen

Come Closer – ©Herman Olivier

“Fotografie is die plek waar ek kreatief kan wees.” — Herman Olivier APSSA

Een van die Swartland Fotografieklub se lede het pas uitmuntend presteer toe sy paneel van foto’s deur die PSSA (Fotografiese Vereniging van Suid-Afrika) aanvaar is vir ‘n APSSA-titel.

Toegeken vir hoë standaard van prestasies in die kuns en wetenskap van die medium as erkenning vir werk van ‘n goeie estetiese en tegniese standaard. – aldus PSSA-webwerf.

Herman Olivier besig met landskapfotografie, een van sy gunstelinge. Foto: Theuns Olivier

Herman Olivier van Malmesbury het met dié suksesvolle aansoek, teen die PSSA se aanbeveling in, sommer die laer LPSSA-toekenning gesytap en die meer senior titel verwerf.
Herman sê hy is mal oor alle genres van fotografie, al is die afneem van mense nie sy “sterkpunt nie.
“Soos almal van ons, is ek ook al by geleentheid gevra om uit te help met ‘n matriekafskeid- of troufoto’s, maar is landskap- en makrofotografie my gunstelinge.”
Die PSSA is die nasionale liggaam wat ook plaaslike fotografie op die internasionale verhoog verteenwoordig.
Top-fotograwe kan by dié liggaam aansluit en dan vir verskillende vlakke van erkenning aansoek doen.

A simple but important task ©Herman Olivier

Twaalf deurwinterde fotograwe en fotobeoordelaars beoordeel normaalweg elke aansoeker se paneel in fyn besonderhede, ook vir tegniese kwaliteite en redigering. In die laaste ronde was daar weens praktiese redes net agt beoordelaars.
Herman moes ‘n paneel van 15 foto’s voorlê vir die APSSA (Associateship)-onderskeiding.
Die APSSA word, luidens PSSA, toegeken vir ‘n “hoë standaard van tegniese vaardigheid, bekwaamheid en kreatiewe vermoëns. Hierdie toekenning gee erkenning aan ‘n hoë standaard van prestasies in die kuns en wetenskap van die medium en word toegeken as erkenning vir werk van ‘n goeie estetiese en tegniese standaard”.

Peek-a-boo ©Herman Olivier

Om daarvoor aansoek te kan doen, moet die fotograaf reeds oor óf ‘n LPSSA (Licentiateship) beskik of oor ‘n sogenaamde 3 Diamante-status op die PSSA se merietelys.
Hy sy hy “moes eintlik lankal aansoek gedoen het vir ‘n toekenning. Ek het al gekwalifiseer vir 3 Diamante-status met al my salonaanvaardings en kon toe direk vir die APSSA gaan in plaas van die LPSSA.”
Ná ‘n suksesvolle aansoek, kan die fotograaf die betrokke titel agter sy/haar naam skryf vir solank hul ‘n volbetaalde lid van die PSSA is.

Homestead in the Cape Winelands ©Herman Olivier

Indien jou paneel van 15 foto’s nie met die eerste ronde almal deur meer as 75% van die beoordelaars aanvaar word nie (daar moet minstes 5 foto’s aanvaar word), kry jy die geleentheid om ‘n paar keer binne ‘n bepaalde tyd nog foto’s voor te lê vir die 15 aanvaardings.
Dit beteken normaalweg minstens 9 van die 12 beoordelaars moet die foto die groen lig gee dat dit aan die voorgestelde standaarde voldoen.
Herman, ‘n vyfsterfotograaf by die Swartland Fotografieklub, het met die eerste ronde 11 aanvaardings ontvang en met die tweede ronde is al vier sy nuwe foto’s aanvaar.
Hy het ‘n kleurpaneel voorgelê en vertel dat twee meesterfotograwe, Clifford Wyeth (Moorreesburg) en Peter Hardcastle (Malmesbury), hom aangemoedig het om vir die titel aansoek te doen.

Spectacular Sunset ©Herman Olivier

“Ek het gaan navorsing doen oor die hele proses sowel as waaroor/waaruit ‘n paneel foto’s moet bestaan en moet sê die mees uitdagende deel van die proses was om deur my honderde foto’s te gaan om slegs 15 vir die eerste ronde uit te kies.”
Die paneel foto’s kan nie net lukraak gekies word nie, voeg hy by. Dit moet as ‘n paneel mekaar saam komplementeer.
Die oorwegende kleur van die foto’s en die grootteverhouding (aspect ratio) moet gemaklik saamvloei.
Oor sy 11 aanvaardings ná die eerste ronde, herken Herman hy was teleurgesteld dat hy nie dadelik die vereiste 15 aanvaardings gehad het nie, “maar die meeste mense met wie ek daaroor gepraat het, het vir my gesê dat 11 uit 15 baie goed was.

Light up the Night ©Herman Olivier

“Met die tweede ronde het ek weer deur die honderde foto’s gewerk en die beste vier gekies wat ek gedink het dit sal maak.”
Tydens die eerste ronde is agt van sy foto’s deur al die beoordelaars aanvaar.
Met die tweede ronde het hy ‘n 100%-aanvaarding met drie van sy werke ontvang.
Oor sy fotografie, sê hy: “Nie net laat landskapfotografie my so ‘n bietjie uitkom en wegkom van die alledaagse kantoorwerk nie, maar help makrofotografie my ook om ‘n bietjie anders na die wêreld om my te kyk.”

True Artisan ©Herman Olivier

Hy voeg by: “Sedert ek in 2013 met fotografie begin het, sal ek sê dat die beste ding wat ek nog ooit kon, was om by ‘n fotografieklub aan te sluit.
“Só en met die inligting beskikbaar op die internet (bv. YouTube) het ek al so baie geleer uit ander mense se foto’s.
“My beroep fokus grotendeels op reëls en regulasies en los dit maar min plek vir kreatiwiteit.
“Fotografie is die plek waar ek kreatief kan wees.”
Hy sê sy “beste foto is die een wat ek nog moet neem en is ek altyd op soek na ‘n foto – of dit nou met die selfoon is of met die kamera.”

Herman by ‘n kokerboom – Foto: Theuns Olivier

Sy eerste kamera was ‘n Fuji Finepix S4300, maar mettertyd het hy besef daar is beperkings met dié tipe kamera.
Hy gebruik nou ‘n Nikon D500. Hy het ook ‘n Nikon AF-S 16-80mm f/2.8-4E ED DX VR-lens wat hy die meeste van die tyd gebruik.
“Die afgelope twee jaar was, vir verskeie redes, baie uitdagend vir my fotografie.
Met 2020 se deelname aan Solo Studios in die Riebeekvallei het ek weer meer geleer oor die uitstalling van foto’s en sal ek graag meer van my werke groot laat uitdruk en dit êrens laat uitstal.”

Herman se volledige APSSA-paneel wat aanvaar is, kan gesien word op die PSSA webtuiste by die volgende skakel.

https://www.pssa.co.za/articles/246-honours/panels-jan-2021/2261-apssa-colour-herman-olivier

Volg hom gerus ook op Instagram by @hermanoli4 om meer van sy foto’s te sien.

© Theuns Olivier

Namens die Swartland Fotografieklub, Baie geluk Herman. Welgedaan!!!

“Die beste foto is die een wat ek nog moet neem en is ek altyd opsoek na ‘n foto – of dit nou met die selfoon is of met die kamera.” 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *