Ons Praat Foto’s: Paasfees
“My life is shaped by the urgent need to wander and observe, and my camera is my passport.” — Steve McCurry

Kunstemas vra dikwels interpretasie en verbeelding en só ook die kunswerke.
Om oor Paasfees en Paasfeesfotografie te praat, kan in ‘n geskiednisles ontaard en dit is gewis nie die doel van hierdie netskryf nie. Paasfees het weliswaar sy oorspring in die Christelike geloof wat die kruisiging gedenk en die opstanding op die derde dag vier. Vandaar ook die Passiespele. ‘n Kruis is dus dikwels sentraal in ‘n Paasfeestema, maar eeue gelede het paashase en paaseiers ook hul weg tot in die tradisies van Paasfees gevind.

Paasbolletjies het oor die wêreld heen ook onlosmaaklik deel van Paasfees geword en in Suid-Afrika – spesifiek in die Kaap – het ook kerrievis sinoniem met Paasfees geword.
Paaseierversiering en paaseierjag is als deel van die aktiwiteite van Paasfees.
As jy paaseiers afneem, kan jy op vorm of kleur of patrone fokus. Om ‘n paashaas wat nog rond spring te vind, is nie so maklik nie. Aksiefoto’s met hase wat spring of die paaseiers ondersoek verg meer tyd en geduld. Daar is immers ‘n spreekwoord wat lui: So mal soos ‘n haas. Diepte van veld speel hier ook ‘n rol, want as dit te nou is, loop jy hier ‘n risiko dat haas of eiers nie in fokus is nie.

Die agtergrond waarteen jy gekleurde eiers afneem en die beligting kan tot ‘n uiteenlopende verskeidenheid van foto’s lei.
‘n Flits kan die kleure laat uitspring – veral teen ‘n donker agtergrond. As jy boonop die lig van ‘n kant af terugbons of natuurlike kantbeligting inbring, sal die eiers meer gedefinieer wees. (En as jy die eiers uit die yskas haal, loop jy die risiko dat hul weens kondensasie nat raak en dan kwaai blink met flitsfotografie.) Daarteenoor kan jy met dieselfde eiers ‘n baie meer subtiele en sagter foto kry as jy nie harde lig gebruik nie en ook met ‘n ligter agtergrond werk.



Terug by die oorsprong van Paasfees. Die kruis. Wel, as jy nie een byderhand het nie, dan maak jy maar een met papier, prakseer dit dan bo op ‘n kurwe en speel met beligting om ‘n effek te kry. Niks verkeerd met swart en wit en ‘n bietjie redigering vir effek nie. (terloops die uwe gebruik tans die gratis sagteware genaamd GIMP).

As jy gelukkig is, het iemand iewers in jou dorp of omgewing ‘n verligte kruis wat ‘n baie indrukwekkende foto kan maak teen vroegaand voor dit heeltemal donker is. Of dalk is daar een iewers op die strand.

Sirkels is ‘n baie sterk visuele bousteen en kan min eiers op jou foto visueel meer as sterk genoeg wees om ‘n treffende foto op te lewer. Die winkelrakke is propvol hase en eiers van baie klein tot groot.
En as jy regtig ‘n bietjie met redigering wil werk, is daar ook niks wat jou verhoed om ‘n paar van jou paaseierfoto’s uit te sny en samestelling te maak nie. Al is dit net vir die pret en nie vir ‘n klubkompetisie nie. Glo my, jy leer sommer jou sagteware ken.

As jy paaseiers afneem (sonder die papier) kan die bruin sjokolade dikwels oninteressant wees. Dit is hier waar kantbeligting of selfs beligting van agter beslis ‘n bydrae kan maak.
Só ook as jy die stoom op ‘n heerlike koppie koffie (saam met paasbolletjies) wil vasvang. Dan is beligting van agter en/of skuins agter baie handig om die stoom op jou meer sigbaar te maak.

As jy wit en bruin paaseiers saam op een foto het, is dit goed om met beligting te speel en straks die die lig van die bruin eier se kant af te skyn sodat dit effe meer lig kry as die wit een.
Sonder om politiek te praat, werk dit ook baie prakties vir mense. Probeer altyd die donkerder mense in ‘n groep die naaste aan die ligbron plaas (voor, as jy met ‘n flitslig skiet).

Nietemin. Dit is menseregtenaweek en ons is ‘n reënboognasie. Daar is niks lekkerder as ‘n verskeidenheid reënboogkleure (soos in “speckled eggs” selfs) om jou fotografie vrye teuels te gee en ‘n mens se gemoed sommer net te lig nie. Die kleure van paaseiers is ‘n plesier as jy ‘n bietjie kreatief wil raak. Wié het gesê klein paaseiers kan nie makrofoto’s gee nie – met ‘n verlengingsbuis (die arm man se makrolens) as jy nie ‘n makrolens het nie. (Vir die doel van beoordeling is dit seker net belangrik om seker te maak die beoordelaar kan die Paastema raaksien).
Diepte van veld is kardinaal as dit my makrofoto’s kom en daarvoor is ‘n driepoot dikwels ononderhandelbaar omdat jy juis lig afskerm/verloor as jy só naby aan jou onderwerp gaan. Boonop wil makro maar ‘n kleiner lensopening hê, anders is amper niks in fokus nie.

As jy kinders het wat paaseiers jag, kan jy kosbare emosies op hul gesigte vasvang as hulle die eiers vind of die paaseiers eet.
Onthou dan net weer diepte van veld. As jy die fokus op die kind en die eiers wil sit, is ‘n groter lensopening dikwels handig om die agtergrond minder steurend te kry, maar as jy meer van die omgewing wil vertel, is die teenoorgestelde weer waar.
Paasfeesfoto’s leen hulle by uitstek vir kreatiwiteit met kleure, vorms, patrone en emosie.
Klim gerus ‘n bietjie van die gemaklike hoogte af en raak ‘n bietjie mal soos ‘n haas.
Jy sal verbaas wees oor die kreatiwiteit waarmee jy voor ‘n dag kan kom.

Tot ‘n volgende keer
Lekker Paasfeesfoto’s maak.
J Berto V
“There is no ‘right’ way to make art. The only wrong is in not trying, not doing. Don’t put barriers up that aren’t there — just get to work and make something.” — Lisa Golightly