Ons Praat Foto’s: Kleure en emosie
“‘Mere color, unspoiled by meaning, and unallied with definite form, can speak to the soul in a thousand different ways.” – Oscar Wilde
So vinnig en maklik praat ons van warm en koud. Kleure soos rooi en blou.
Maar jy hoef nie ‘n astro-fisikus, die smartste smartie of skerpste potlood in die pakkie te wees om te weet dat kleure en die emosie en boodskap wat hul dra, van mens tot mens verskil nie. Selfs dalk van dag tot dag vir dieselfde persoon.
Die komplekse jy ervaar dalk rooi totaal anders as die ewe komplekse ek. So ook blou. Wie van die ouer garde onthou daardie twee kleifiguurtjies op die beeldradio (ja, in die dae toe TV nog beeldradio was) – Rooi en Blou. Hulle waarskynlik net nie dieselfde impak gehad het as hulle geel en groen was nie…
Soos só dikwels al gesê, is daar hier ook algemene riglyne wat in die breë bepaalde emosie by die meeste kleurkykers wek.
Daar is ook kleure wat mekaar aanvul en dan is daar dié wat mekaar teenstaan en dalk juis ‘n sterker gevoel ontlok. Die kleurwiel is hier altyd handig om te sien watter kleure goed is vir kontras en watter eerder vir aanvulling.
Maar kleur kan in fotografie dikwels ook net die aard en karakter van die onderwerp beklemtoon en op dié manier emosie sterker aanwakker.
In die rooi maand van liefde(???) is ‘n hart immers warmrooi (en ons praat nie kardiotoraksjirurgie nie). Enige ander kleur hart sal die meeste kykers twee keer laat kyk en wonder.
Maar koud is dalk juis wat jy wil wys en dan kan jou hart uiteraard blou wees.
Rooi, so word algemeen aanvaar, beteken dus liefde, maar daar word ook gepraat van rooi sien as mense kwaad word. (Daar is mense wat glo ‘n jerseybul en die bulle wat in Pamplona se El Encierro hardloop, haat rooi. Die feite is glo dat bulle redelik kleurblind is en nie rooi sien nie. Dis eerder beweging wat hulle op hol jaag.)
Nietemin. Ander kleure soos oranje beteken (o.a.) energie, geluk, lewenskrag;
geel beteken (o.a.) geluk, hoop en ook bedrog (maar ek dink aan Liewe Heksie se gifappeltjies);
Groen versinnebeeld vir baie ‘n nuwe begin, oorvloed en die natuur. Ander weer sê dit kan ook jaloesie beteken.
Blou op sy(/haar) beurt is dikwels koud of kalmerend. Dit kan ook gebruik word om skaamte of hartseer uit te beeld en
pers, weer, word (o.a.) met trots, vrees of moed geassosieer.
Om dus die sielkunde agter kleur en emosie te ontrafel, sou ‘n boek neem.
Elkeen moet maar self hul eie kleuremosie ervaar.
Sommige kleure soos geel en rooi en oranje kan wel die aandag wegtrek en is dit wys om veral hierdie sterk kleure met omsigtigheid in werke in te sluit.
Donker, onderbeligte (wie sou nou besluit wat is onder of oorbelig – dit is smaak) beelde kan dikwels die gevoel van swaar, morbied of onheilspellend oordrae terwyl ligte skakerings weer nie so swaar op die gemoed lê nie.
Wit is vir baie ‘n teken van skoon en rein en vars en selfs hemels.
Swart darenteen natuurlik die dood en dramaties. Maar dit kan ook stylvol, elegant wees en meer ernstig.
Soms wil jy juis ‘n kleur net subtiel inwerk om jou boodskap oor te dra of te versterk. Helder kleure is hier juis nie so effektief soos pastelle nie, afhangende van die stemming of luim wat jy wil oordra. Maar kleur bly deel van ons elke dag en is ‘n bitter belangrike bousteen in fotografie.
Tot ‘n volgende keer
tussen kleur en emosie deur
J Berto V
“Color is my daylong obsession, joy, and torment.” – Claude Monet