Kos

Ons Praat Foto’s: Food/Kosfotografie

Johan Viljoen

Seeing is not enough; you have to feel what you photograph.” – Andre Kertesz

Miskien moet jy dit kan proe

Toe ons kinders was, was daar die Kinderensiklopedie. Deesdae is dit die vingerensiklopedie. Tik net gou daar op jou saamdra-aardbol, waarop jy mos die hele wêreld saam met jou dra, en vra vir oom of tannie google. En luiser en glo dan wat dié gorrel.
Wel, dit is maar gevaarlikerig. Net so gevaarlik as jou knoppiedrukkuns (deesdae ligjare van ons kindertyd se fotografie met skuifies en donkerkamers verwyder) ten doel het om tog net te doen en luister wat fotokritici van jou verwag.
Jou fotogehoor gaan elkeen jou werk anders verteer. Ds maar soos enige dis wat ‘n sjef voorsit.

So as jy gaan naslaan wat kosfotografie is of iemand se mening wat dit is en die doel daarvan, neem dit maar met ‘n knippie sout. Dit bly immers smaak.
Soos met elke genre, neem ook kos en wyn af soos jý dit wil afneem – vir jouself en soos jy die storie wil vertel.
Hulle sê (daardie oom en tannie, en onthou wikipedia word dikwels deur gewone mense geskryf wat maar die bord kos by die lepel kan beet hê):
“Food photography is a still life photography genre used to create attractive still life photographs of food. It is a specialization of commercial photography, the products of which are used in advertisements, magazines, packaging, menus or cookbooks.”
As jy vir die skare speel en die beoordelaar is ook een van daardie skare wat vir oom en tannie G glo, let dan nóú op bogenoemde definisie.
Ja, natuurlik is aptytwekkende en aantreklike kos aanloklik en verkoop dit ‘n restaurant se kos en/of wyn.
As kos lekker lyk, lyk dit lekker, maar lyk dieselfde kos en dieselfde hoek vir elkeen ewe lekker?

Goedgedacht se Tea House in a Tree


Kos is dikwels ‘n kunswerk en om ‘n kunswerk van iemand se kuns te skep, is moeilik en dikwels nie soos daardie kunstenaar dit sien nie.
Maar dit als gesê, is daar altyd visuele riglyne en boustene wat ‘n foto of kunswerk sterker kan maak. Fotograaf en kunstenaar Nicole Palmer praat van “beyond the rules”. Dit is haar insigryke reaksie op die holruggeryde: As jy eers die reëls ken, kan jy dit breek.
Daar is nie sprake van breek nie. Dit is net jóú interpretasie.
Nietemin, lig en skaduwees, vorms en kleur en tekstuur en lyne en herhaling…. Ja, dit klink soos herhaling, want dit geld in haas elke kunsvorm.
In kosfotografie is daar dikwels borde en bakkies en bakke en glase met verskillende rondings en sirkels is een van die sterkste vorms in kuns.
Lyne kan met groot vrug (of groente as jy wil) aangewend word in kosfotografie om juis die aandag te trek, oog te lei of om straks die belangrike en minder belangrike elemente in jou foto te skei.

Geskilde lemoene by Old Biscuit Mill


Vir sulke lyne kan jy moontlik eetgerei of ‘n tafeldoek of tafelblad gebruik.
Natuurlik is harde skaduwees hard. (stating the obvious). Maar dit kan kompeteer en aandag weglei van ‘n watertand-fokuspunt op jou foto.
Kosfoto’s is dikwels lig omdat dit (nie swaar is nie…) nie ten doel het om jou swaar en donker te laast voel nie maar eerder lig en honger.
Kosfoto’s, veral in die kommersiële wêreld, het dikwels iewers ekstra spasie (sogenaamde negatiewe spasie, soos dit in fotografiekringe genoem word) om ruimte te laat vir ‘n byskrif met publikasie. Maar in klubbeoordeling word daar baie keer negatief gekyk na groot oop of negatiewe
ruimtes op foto’s.

Olyfolieproe


Kosfoto’s word dikwels in studio met kunsbeligting geneem en dan word lig en skaduwees tot perfeksie beheer. Maar meer natuurlike omgewings en meer natuurlike lig gee net ‘n meer natuurlike gevoel en dan maklik ook daardie ekstra karakter aan kosfoto’s.
Die hoek waarvan die foto geneem word, (ja, stating the obvious again) is bitter belangrik. ‘n Foto van bo of skuins bo kan meer elemente van ‘n dis of die gedekte tafel insluit, terwyl ‘n laer foto die kos of dis of vrug groter en meer kan laat vertoon. Maar pasop vir te veel elemente. Dit kan ook jou foto te besig maak en met ‘n moontlike fokuspunt kompeteer.


Probeer ook om die diepte van veld om jou fokuspunt te beheer en dit te isoleer. Kyk of dit vir jou beter werk.
Terug by natuurlike lig.
Dit kan erge skaduwees gee. Gebruik dan gereflekteerde lig (soms kan ‘n wit papier wondere verrig, maar die puriste verkies eerder silwer of selfs goud – afhangende van die tipe kos). Ook invulflits of as jy jou flits kan bons. Om ‘n opspringflits te versag, kan jy ook ‘n servet of wit papier voor dit hou.
Smaak. Ja smaak. Sommige het ‘n swaarder hand met die sout en/of die peper. Die lig en/of die donker. Kyk wat vir jou werk. En as dit vir jou werk, is dit reg. Maar moet nooit daar stop nie.
Ondersoek ook ‘n ander hoek en behou die goeie. Wat vir jou die beste werk. Reg van bo straks. Dit kan dalk die hele storie vertel – als wys en moontlik ook meer tekstuur inbring.

Kitskoffie of koffiebone?


Jy het dalk ‘n baie ligte styl. Of verkies amper wit. En dit het juis groot aanhang. Maar ook die donker styl met swaarder atmosfeer is in ander kringe baie gewild.
Die atmosfeer van ‘n kosfoto kan beslis ‘n groot bydra tot ‘n sterker foto maak.
Omdat kosfotografie soos stillewe is, is beoordelaars dikwels genadeloos oor komposisie en ook oor klein merkies op jou vrugte of jou tafeldoek. Daar is ‘n opvatting dat jy beheer gehad het oor die komposisie en die produkte. (Wel, dit is nie altyd so nie, maar kom ons gee diegene die voordeel van die twyfel.)
Kloon dit uit (as jy wil). Want dit is so. ‘n Merkie kan aandag trek. Maar vrugte is ook nie altyd perfek nie. Ons lewe nie in ‘n merkielose wêreld nie.
Vir kosfotgrafie het jy dikwels die behoefte om nader te kom as wat jou lens se fokusbeperking toelaat. Dit kan frustrerend wees.
Jy kyk dus na ‘n ligte graad van makro. Hier kan jy ‘n makrolens gebruik of ‘n afstandpyp (extension tube) of ‘n nabyneem(close-up)-filter of jou kort lens omdraai en ongemonteer foto’s neem.


Laasgenoemde het egter ‘n besondere geduldfaktor.
Die afstandpypstelle het dikwels drie verskillende opsies en selfs die kortste een kan met groot vrug gebruik word.
Die beginsel is maar net (en jy kan ook als manual doen met ‘n gesnyde toiletrol tussen kamera en lens om lig uit te hou) om jou lens ‘n bietjie weg te kry van jou kamera af. Dit maak dat die lens nader kan fokus.


Maar kosfotografie hoef nie makrofotografie te wees nie. Makrofotografie kan velddiepte van fokus ook erg in die wiele ry. Ja, jy wil nie noodwendig als in fokus hê nie, maar makro maak dit besonder nou.
Onthou lig trek aandag en sommige kleure soos rooi en oranje is sterker as ander.
En, soos in haas elke ander genre, is kameraondersteuning in die vorm van ‘n driepoot bitter waardevol vir soet resultate.



Tot ‘n volgende keer Lekker kosfoto’s neem.
J Berto V


“If you can taste the food by looking at the photo, it’s a food photograph.”


Leave a Reply