Patrone

Ons Praat Foto’s: Patrone

Johan Viljoen

The whole point of taking pictures is so that you don’t have to explain things with words.” – Elliott Erwitt

Om die stemming en ritme en effek van repetisie en patrone en die harmonie daarvan, al dan nie, in woorde te beskryf, kan lank neem. Erwitt se wysheid dus só van pas as jy oor patroonfotografie begin praat.
...

Sê die WAT (woordeboek van die Afrikaanse Taal) oor patrone:
“Dekoratiewe of artistieke ontwerp met ‘n herhalende motief…” ook
“Vorm, indeling of styl wat op ‘n konsekwente, reëlmatige of herhalende manier in komposisie voorkom…” ook
“Reëlmatige of herhalende vorm of rangskikking wat natuurlik gevorm is of voorkom, of wat toevallig ontstaan het…”

Patrone is deel van ons lewe. Dis oral om ons. Sien, ons fotomakers skiet mos. Maar gelukkig gebruik ons nie daardie patrone wat seer maak en vernietig nie. Ons werk met skadelose visuele patrone.
Soos patrone op blare, boombas, klippe, luiperds, sebras, ‘n duif se vlerk, wolke of herhalende skaduwees.
Ook in argitektuur of paaie en plaveisel… of in jou huis – die gaatjies van die rasper of ‘n skaduwee as jy lig deur jou tafelvurk skyn of die baksteenwerk in ‘n muur.

Niks verhoed jou om patrone met redigering op jou rekenaar te skep nie – soos hierdie herhalende patroon van een mosselskulp


Skerp kantbeligting (kort na sonsopkoms of voor sononder) kan patrone daarbuite aksentueer met langer skaduwees. Dieselfde met gesaaide of geoeste lande en kontoere. Dit gee meer diepte, maar dit kan dalk die lyne harder maak as wat jy verkies.
Die keuse oor hoeveel patrone jy moet insluit – hoe wyd of naby jy mowet gaan, sal van onderwerp tot onderwerp verskil en smaak, natuurlik.


Wees altyd bedag op ‘n lens met ‘n wye hoek wat lyne buig. Maar soms kan jy dit juis voordelig gebruik.
Tog is amper reguit soms meer steurend as heeltemal skeef of diagonaal. Daarom werk ‘n loodregte hoek met jou onderwerp die beste as jy vierkantige lyne wil uitbeeld.
Patrone kan eentonig wees, maar soms kan die sukses (smaak smaak smaak) van jou kunswerk juis in die eentonigheid van die patrone/onderwerp lê.


Soms is die breek/versteuring van die ritme/patroon juis die boodskap wat jy wil vertel.
Patrone is een van die belangrike boustene van fotografie. Dit kan ook soms aan tekstuur grens.
As kunstenaar kan jy patroon gebruik om klem te plaas of te versag.

patrone kan ‘n basis vorm vir ‘n landskapfoto – dit kan amper soos tekstuur word


Patrone kan ook ‘n sogenaamde negatiewe spasie opneem om dit dan minder negatief te maak, sonder om met jou hoofonderwerp te kompeteer.
Harmonie skep binne chaos of juis teenstrydigheid as lyne byvoorbeeld kruis.
Wanorde kan ook ‘n patroon hê.
Daar kan wisselende of groeiende eendersheid wees.


Patrone help skep egter meesal ‘n visueel meer aangename beeld. Sagter op die oog.
Eenvoud en makliker verteerbaar.
Jy kan ook patrone gebruik om die kyker se oog/oë spesifiek te trek met lyne – reguit of krom.


Dit is juis ‘n waardevolle trekpleister soos lig en sommige uitstaankleure soos rooi.
Patrone is meesal nie baie aktief of vinnig bewegend nie, wat dit makliker maak om te beplan en jou hoek te verander.

Soms kan jy met die lynpatrone op ‘n waenhuisdeur ‘n sirkelpatroon op jou rekenaar vorm


Kunstenaars is alombekend daarvoor dat hulle nie deur reëls gereguleer wil word en boksies geplaas word nie. Tog is daar is mos riglyne van wat werk om kunswerke visueel te versterk. Ek luister na Nicole Palmer en sy breek die patroon van haas elke raadgewer wat altyd sê: “Reëls moet gebreek word.” Nee, sê Palmer, breek is negatief. Ken die reëls, ja . Maar wees kreatief en “Just go beyond the rules.” So neem jy jou werk na ‘n volgende vlak.


Tot ‘n volgende keer
(maak patrone of skiet patrone)
J Berto V


“Just go beyond the rules.” – Nicole Palmer


Nóg ‘n aanhaling (glo van Vincent van Gogh): “If you hear a voice within you say ‘you cannot paint (met lig as ek dit kan invoeg),’ then by all means paint, and that voice will be silenced.”

Leave a Reply