Ons Praat Foto’s: Beweging – Movement
“All that is important is this one moment in movement. Make the moment important, vital, and worth living. Do not let it slip away unnoticed and unused.” – American modern dancer and choreographer Martha Graham
Jy kan self beweeg of jy kan vries...
… terwyl jy met die druk van ‘n knoppie daardie gordyne binne-in jou kamera ooptrek om die skouspel of die oomblik(ke)vas te vang.
Elke keer se knoppie druk, is ‘n nuwe hoofstuk met nóg ‘n kans om dit wat voor jou lens afspeel, vas te vang.
Beweging kan ‘n klomp dinge beteken. Daar kan selfs ‘n beweging wees wat bewegingfotografie bevorder. In die Kaap is daar selfs ‘n fotografiebeweging genaamd 1/15th. Hulle neem al die foto’s met ‘n sluiterspoed van 1/15 sek.
Beweging – van kamera en onderwerp.
Hoekom wil mens beweging vasvang of uitbeeld… of dalk vries?
Vir baie is dit ‘n manier om beweging in ‘n stil foto vas te lê in onder meer natuurfotografie en sportfotografie.
Die suksesvolle vries van aksie waar water of sweet of modder of klippe spat op ‘n foto of rekenaarbeeld kan ‘n baie dramatiese oomblik op beeld vasvang en bewaar.
Hiervoor moet jy daardie gordyn amper vinniger toetrek as wat jy dit oopgetrek het. Waarskynlik (afhangende van hoe vinnig daardie beweging van jou onderwerp en spatsels is) niks stadiger nie as 1/500 sek. of selfs veel vinniger.
Dan kan jy elke bewegende deeltjie skerp skerp vries.
Sou jy met ‘n zoemlens neem, is daar ‘n handige ou ongeskrewe reël wat sê: jou sluiterspoed moet nie stadiger wees as 1 oor jou fokusafstand nie. So bv. as jy met 600mm neem en die lens is boonop op ‘n kamera met ‘n sensor kleiner as die standaard 35mm waar jy dit dan met 1.5 of 1.6 moet maal, word daardie lens ‘n 960mm. Dan moet jy vir om te kompenseer vir kamerabeweging maar nie stadiger as 1/1000 skiet nie.
Gelukkig is daar mos darem deesdae al beter tegnologie met beeldstabiliseerders ingebou in kameras en/of lense.
Om so ‘n vinnige sluiterspoed te kry, is die veranderlikes mos maar altyd beskikbare lig, beskikbare lensopening en beskikbare ISO (ligsensitiwiteit van jou toerusting).
Dit is hier waar ‘n vinniger (en meesal duurder natuurlik) lens baie help. Vinnig genoem omdat die lens groter kan oopmaak soos F2.8. Dan kan jy met dieselfde lig ‘n vinniger sluiterspoed kry.
Dit is die tipe foto waar die onderwerp dan met die groot lensopening ook van die agtergrond geïsoleer is as die agtergrond nie so in fokus is nie.
In die era van tegnologie-ontwikkeling word ligsensitiwiteit deurlopend verfynd en kan kameras vandag met minder en minder lig wegkom sonder om so baie op kwaliteit in te boet soos in die ou dae met baie greinerige film.
Die ideaal bly egter steeds meer lig vir sulke aksiefoto’s.
Dan is daar ook die ander foto’s waar jy juis beweging uitbeeld met ‘n onderwerp of deel van die onderwerp wat beweeg met ‘n stadiger sluiterspoed.
Hier kan jy jou kamera op ‘n driepoot sit, die lensopening kleiner maak vir meer diepte van veld (ook die ISO minder om ‘n stadiger sluiterspoed te kry) en bewegende mense of diere of voertuie uitbeeld op ‘n gedeelte van die foto.
Wat is die ideale sluiterspoed? Dit sal absoluut afhang van die effek wat jy wil kry en hoe vinnig jou onderwerp(e) beweeg.
Nog ‘n gewilde tegniek is die volgfoto’s (panning). Weer is die sluiterspoed een om mee te eksperimenteer. Gewoonlik tussen 1/30 tot so 1/125. Dan volg jy die aksie dwars voor jou verby en trek die kamera se gordyne met die druk van die knoppie oop en toe terwyl jy saam met die onderwerp bly beweeg. Hier is die agtergrond dan gewoonlik in die vorm van (dunner of dikker) strepe en jou onderwerp of ‘n gedeelte van jou onderwerp in fokus. Een van die geheime van volgfotografie (in die era van digitaal waar jy maar die knoppie op hoë spoed kan inhou vir etlike raampies) is om nie op te hou volg wanneer jy klaar geneem het nie. Volg nog deur nadat jy die laaste foto geneem het.
Daar is ook die risiko van op- en af-beweging. So dit is belangrik om met oefening ‘n egalige volg aan te leer. Dit is ook hier waar ‘n te stadige sluiterspoed verhoed dat jy sukses het. Dit is ook beter dat jou afstand van die onderwerp dieselfde bly, anders kan fokus ‘n uitdaging raak.
Wees bedag daarop om die knoppie so lig moontlik te druk en so ook te verhoed dat jou kamera afwaarts beweeg. Weer kan ingeboude beeldstabiliseerders baie help.
So afhanklik ons van water is, is water maar altyd ‘n baie gewilde onderwerp vir foto’s. Kristalhelder water wat stil staan, kan bitter mooi wees, maar ook bewegende water kan met verskeie tegnieke verskillende resultate oplewer en soos melk begin lyk.
‘n Stadige sluiterspoed laat branders en ‘n redelik bedrywige see baie gladder vertoon op ‘n foto.
Eerstens: natuurlik weer ‘n driepoot. Sodoende kan jy ‘n rots of ander anker in jou foto stil en skerp kry, terwyl die water baljaar.
Een van die uitdagins is dikwels weer te veel lig om ‘n stadig genoeg sluiterspoed te kry. Al neem jy die ISO tot sy laagste en maak die lens op sy kleinste toe, kan daglig steeds te veel wees. Selfs in die vroeë of later ure van die somer.
As dit die geval is, kan filters (soos Neutral Density vir neutrale kleur) gebruik word om minder lig op jou sensor te bring. Sommige mense gebruik selfs ‘n polariseringsfilter omdat dit jou ook ‘n stop of twee op jou lig grasie gee. Die polariseringfilter kan ook wolke aansienlik meer dramaties laat vertoon en hemelblou verdiep.
En die dag as jy nou werklik waaghalsig wil wees en ‘n bietjie eksperimenteer, dan kan jy eenvoudig jou kamera in verskillende rigtings en patrone beweeg en selfs in- en uit-zoem vir baie kreatiewe resultate. (Hier werk ligkolle goed om interessante lyne en strepe te vorm.
So ja, wees ‘n bietjie kreatief en speel met die opsies in jou fotografie.
Tot ‘n volgende keer
(laat julle beweeg en keer dinge bietjie op hul kop)
J Berto V
“Creativity takes courage.” – Henri Matisse
Nóg ‘n aanhaling (glo van Vincent van Gogh): “If you hear a voice within you say ‘you cannot paint (met lig as ek dit kan invoeg),’ then by all means paint, and that voice will be silenced.”