Water

Ons Praat Foto’s: Water

Johan Viljoen

Walter J. Phillips het glo gesê: “Water is the most expressive element in nature. It responds to every mood from tranquility to turbulence.”

Water is immers ons mees noodsaaklikse van alle sigbare lewenshulpbronne.

En oor die eeue is dit in ‘n groot mate kardinaal deel van kuns en fotografie.
As water die tema of fokus van foto’s moet wees, is interpretasie en veral die gewig van die water as komponent (of dit die oorheersende onderwerp moet wees?) van jou totale werk maar weer ‘n kwessie van interpretasie en smaak. (Wonder ook altyd hoe water eintlik moet smaak.)
Ek het die beoordelaar vir die maand gevra, en hier is sy antwoord:
“As die tema water is, dan behoort daar iewers in die foto iets van water te wees. Druppende kraan met die kraan as hooftema sal ook werk.”
So ja, dit hoef dan (ten minste vir hierdie ronde) nie als net water of oorheersend water te wees nie.

Water.
Jy kan water vries. Letterlik tot onder vriespunt of deur die druk van jou knoppie.
Dan sal dit uiteraard afhang van hoe vinnig die water of druppels of strome beweeg.
Jy sou daarvoor waarskynlik ‘n vinnig genoeg sluiterspoed nodig hê – vinnig genoeg dat kamerabeweging nie ‘n wesenlike faktor sal wees nie.
Aan die ander kant sal ‘n driepoot weer haas ononderhandelbaar raak as jy meer van ‘n stemmingsfoto wil neem met sagte water of waterlyne wat die beweging simuleer en ‘n gevoel van die atmosfeer weergee.
Daar is ook opsies om onder beheerde omstandighede (wel in die mate waarin die mens dit kan beheer of dink hy/sy kan dit beheer) spattende en bonsende druppels water en vloeistof in ‘n studio of tuisgeskepte mini-studio vas te vang.

Dit is dan belangrik om jou agtergrond en kleure (probeer byvoorbeeld ‘n melkerige liggekleurde vloeistof teen ‘n swart agtergrond) noukeurig te kies. Jy kan die vloeistof in ‘n houer (selfs ‘n plastieksak met ‘n speldeprikgaatjie) hang, sodat die druppels een vir een voor jou lens neerplons.
Dan is kantbeligting ook altyd ‘n pluspunt. Naas beligting en fokus (dit kan ‘n uitdaging wees, so probeer jou kamera/lens op handfokus oorplaas en fokus vooraf waar die druppel val), kan hierdie oefening jou geduld beproef, want jy sal waarskynlik eers ná etlike probeerslae ‘n foto kry waarna jy soek.
‘n Vinnige sluiterspoed of ‘n kameraflits (wat meesal baie vinnig vuur) help die aksie vries.
Opwasmiddel en olies kan ook ‘n heerlike toevoeging wees vir kreatiewe eksperimentele fotografie.
‘n Groot lensopening (klein diepte van veld) en akkurate fokus kan verder help verhoed dat enigiets agter jou onderwerp steurend is. Maar ‘n skoon agtergrond (donker of lig) werk meesal die beste.

Daar is fotograwe wat al hul aandag op dié genre fokus en dan meesters word. Een van dié meesters is Markus Reugels. Gaan kyk gerus op die net na van sy kuns.
In die natuur kan komposisie ‘n groter uitdaging wees om jou onderwerp te isoleer vir impak of die fokus daarop te plaas omdat jy nie die omgewing kan beheer nie.
Jy kan immers nie die natuur rondskuif nie en as jy bewegende water afneem kan die water se gedrag van knoppie druk tot knoppie druk verskil.Straks is dit juis dié wonder en misterie van water in die natuur wat die mens fassineer. Geen twee branders wat agter mekaar teen ‘n rots slaan, sal op ‘n druppel water na dieselfde lyk nie.
Watervalle, byvoorbeeld, werk dikwels met jou sluiter langer oop – soos twee sekondes of so. Stabiele driepoot uiters belangrik. Maar as jy die fyner besonderhede van ‘n waterval wil vasvang, moet jy juis weer ‘n vinnige sluiterspoed kies. Watervalle kan ook meer indrukwekkend lyk as jy die foto vertikaal eerder as horisontaal neem.

Waterbeweging kan van 1/15 sekondes en stadiger al goed waarneembaar wees. Soms kan om waterbeweging/lyne of atmosfeer te skep met ‘n stadige sluiterspoed, ook ‘n groot uitdaging wees as die lig te veel is. Jy kan die ISO net soveel afbring en jy kan die lens ook net toe maak tot op sy grootste F-stopsyfer.
En dan kan jy steeds te veel lig hê vir ‘n stadige sluiterspoed. Hiervoor gebruik fotograwe dan ND (Neutral Density)-filters om die lig in te perk. Onthou maar altyd dat die glas en kwaliteit waardeur lig jou kamera binnedring ‘n effek op jou foto het. Neem dit in ag wanneer jy enige lens of filter gebruik of aanskaf.
Die ideaal is maar om te skiet op die tyd van die dag as die son nie meer so skerp is nie.

Nog ‘n tegniek wat fotograwe gebruik om die sagte effek op die water te kry, veral as daar nog ‘n bietjie te veel lig is, is veelmalige beligting (multiple exposure). Heelparty nuwer kameras het dié opsie waar jy meer as een foto bo-oor mekaar kan neem. Dan kan jy (kan weer nie driepoot oorbeklemtoon nie) daardie effek kry met ‘n paar foto’s waarvan die beligtingstyd wel korter is. Die kamera het dikwels saam met die verstelling en keuse van aantal beligtings ook ‘n verstelling vir die hoeveelheid lig in so ‘n geval. Begin maar met die gemiddelde lig, en kyuk of dit vir jou werk.
Natuurlik kan jy kreatief raak en sonder ‘n driepoot met selfs verskillende hoeke en beligting eksperimenteer vir kunsfoto’s.
Soms kan selfs ‘n polariseringsfilter ingespan word om ‘n bietjie van die helder lig en ook weerkaatsings in te perk.
Soos met enige kunswerk, is die mens se oog ingestel om meesal eerste die ligter dele op die foto raak te sien. So as jy die ligter deel jou hoofonderwerp kan maak, sal dit die impak vergroot.

Die opsies met waterfotografie is so wyd soos die oseane self – o.a. weerkaatsings in die water tot sonsondergange.
Neem die foto’s waarvan jy hou. As dit vir jou mooi is, is dit mooi. Punt.
As dit vir iemand anders ook mooi is, is dit net ‘n bonus.
Eksperimenteer en toets die water. Hoe anders sal jy weet.


Tot ‘n volgende keer
(laat die waters vloei)
J Berto V


“Whether you succeed or not is irrelevant, there is no such thing.  Making your unknown known is the important thing.” – Georgia O’Keeffe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *