Ons Praat Foto’s: Tafelbladkiekies
Laat jou kiekies op die tafels dans…
as jy wil blog, móét jy eers ‘n paar goedjies opklaar, so seg hulle.
HULLE? ag nee regtig, HULLE fokus is ‘n bietjie af
kiekies is kuns en só is skryf
nou loop vertel JY maar vir ‘n kunstenaar wat om te móét
daar is nie reëls nie (wil amper die deelteken hier ook uitlos)
nietemin, kom ons deel maar so ‘n paar persoonlike goedjies voor ons begin kiekies praat
dan is dit uit die weg geruim
kiekies praat en L.W. NIE die gewone “hier is 10 reëls tot volpunte – 30 uit 30 – vir jóú kunswerk” nie
ons praat goed wat werk – want als werk – sommige net beter vir my en ander straks beter vir jou – is mos maar hoe dit smaak en vandag straks anders as gister of môre
terug by persoonlik
getroud: ja.
hoe lank?: nogal lank, maar nie 1 oomblik spyt nie!!!
vrou se naam: (het al ‘n paar gehad, boer maar jare in dieselfde familie rond) die jongste een is 1Ds Merk III.
skoonfamilie: Canon is hulle van… en hulle is nogal glad nie so sleg nie
kiekies maak het die uwe al ‘n paar plekke geneem en ook al uit die tronkselle gehaal, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.
Ons gaan kiekies maak praat en dikwels fokus op temas wat inskakel by die Swartland Fotografieklub se maandonderwerpe
kort, ongereël en lig, dis al
die uwe is effe kiekiebedinges; weet van ‘n klompie goed en weet van ‘n baie groter klomp goed nie, maar leer aanhoudend EN STEM NIE ALTYD SAAM NIE, want kiekies en kiekiemaak is en bly jóú smaak
dit gesê, is daar darem beslis ‘n hele klompie goed wat kiekies so bietjie meer onafhanklik op eie bene help staan
Die Swartland Fotografieklub gaan in hierdie derde week (van ?) van Covid 19 ‘n bietjie op Tafelbladfotografie fokus.
Definisie? Wel, dit is (nooit in beton gegiet nie) seker maar normaalweg ‘n naby foto onder beheerbare omstandighede wat jy beplan of konstrueer met die nodige tyd om aandag aan komposisie en beligting te gee.
Is maar ‘n stillewe amper soos in ‘n stilllewe-skildery (daardie bak vrugte of pot blomme of … koppie stomende melkkoffie
Gelukkig. Als staan stil en jy kan dit opstel en elemente invoeg of wegneem soos jou hart begeer. (die flippen judges sê ook gelukkig, maar ongelukkig verwag hulle dan dikwels soveel meer juis omdat jy dit kan beheer…)
Ons is almal nou min of meer aan ons huise gegom met ‘n bietjie meer tyd as normaalweg. Maar ons is ook so half beperk tot dit wat ons in en om die huis het. Tot jy begin krap, dan sal jy verbaas wees.
Die heel eerste ding wat jy (verkieslik) moet gebruik is
‘n Driepoot. ‘n Driepoot. ‘n Driepoot.
Daardie ding wat jy nie het nie tot jy dit kry en dan wonder hoekom het jy dit nooit gebruik nie. Dit is amper belangriker as die kamera en die lens. Wel, Amper. Dit maak jou hande los en soos die Ingelsman sê: It slows you down, vir daardie bietjie meer tyd vir komposisie. Die verskil tussen uitstekend en 101%.
Maar, jy kan die kamera ook laat rus op jou eie praksasie of net daar op die tafelblad.
Skep, as jy wil, ‘n mini-ateljee. Lakens of komberse of gordyne. Wit papier of swart as jy het. Dit help net dat jy die agtergrond, ‘n moontlike aandagafleier, kan beheer en beperk.
Doen dit naby ‘n venster met natuurlike lig, as jy wil. Dit help met atmosfeer. Ekstra lig is dikwels nodig, maar ‘n kameraflits op vol sterkte reg van voor is amper 11 uit die 10 kere nie die gewenste nie. Dis hard, behalwe as dit is wat jy wil hê. Maar dit kan skaduwees gee wat jy nie wil hê nie en dit kan atmosfeer wegwas wat jy wil hou en dit kan ‘n blink kol maak waar jy dit dof wou hê.
As die kameraflits ingebou is, is daar sagmaaktaktiek. Byvoorbeeld die flits deur wit papier te skiet of die wit papier (‘n paar velle) gebruik om die lig teen die dak of ‘n muur te bons vir daardie sybeligting om sagter skaduwees te gee of te verander of te verminder. Jy kan ook foelie gebruik vir weerkaatsing. Jy kan ook lig van ‘n natuurlik bron, soos deur die venster, met papier of foelie inweerkaats na ‘n spesifieke punt.
Verder kan jy ook met die vlak van beligting op jou kamera speel – beligtingkompensering noem sommige dit. Of ‘n eksterne flits se impak stel.
Jy kan natuurlik ‘n handflits of ander lig gebruik om daardie ekstra lig iewers in te gooi. Want al wat ons (en die kamera, for that matter) kan sien, is lig. Helder of dof, maar lig is nodig vir sig. Natuurlike lig skep atmosfeer.
Daardie nood-LEDligte wat ons vir beurtkrag aangeskaf het, het dikwels twee verstellings en hulle is lekker mobiel om lig van enige kant op jou foto te gooi. (Ook deur wit papier as jy wil)
Jy kan ook vir jou ‘n ligboks-ateljeetjie bou. Sny groot gate in drie sye van ‘n lekker groot kartondoos se kante en bedek dit met dun wit materiaal. Jy kan dit dan beurtelings weer bedek as jy lig wil beheer, maar jy kan sagter lig op jou onderwerp binne in dié mini-ateljee invoer.
En dan, dan kan jy mal gaan met onderwerpe.
Kos – groot en klein tot fyn
Gereedskap
Boeke
Blomme
Eintlik enigiets waarvan jý hou
Vorms
Tekstuur (wat met kantbeligting nog beter uitstaan)
Kleur (veral op ‘n donker agtergrond)
Iets wat herhaal soos in ‘n patroon
Iets met karakter (nostalgie)
Pasop bietjie vir goed wat blink, want hulle kan nogal skerp aandag trek as jy nie oplet nie.
Speel dan spesifiek met jou beligting.
Speel ook met jou lensopening. Die voordeel van die driepoot, is dat jy juis ‘n groter F-stop (kleiner lensopening vir meer diepte van veld) kan gebruik, omdat jou sluiter maar langer kan oop bly. En vir ekstra veiligheid (probeer jou kamera se “self-timer”). Dit skakel kamerabeweging nog verder uit. Daar is nog “spieëlsluiting” en ander gevorderde tegnieke van toepassing op sommige ELR’s ook, maar dit vir ‘n ander keer.
Gepraat van spieël. O, ELR? Enkellensreflekskamera (sit maar die koppel waar jy wil).
‘n Spieël of gladde swart blad of ‘n stuk glas gee wonderlike weerkaatsings as jy dit in jou stillewe inwerk.
Jy kan jou stillewe soos ‘n legkaart pak. Invoeg en wegneem. Jy kan ‘n storie vertel met baie of baie min…
Onthou, die basies visuele riglyne wat werk, geld maar in alle vorme van kuns en fotografie.
Gee jou verbeelding vrye teuels en soos jy skiet is dit amper “work in progress”.
Laat jou kiekies op die tafels dans…
Lekker kiekies maak
Tot ‘n volgende keer
J Berto V